ToekomsVenster: Onder die beskerming van God

Foto: Adib Harith Fadzilah/Unsplash

Die bose het net een plan en dit is om te ontwrig. Hy verlekker homself daarin om die lewe van God se kinders ondraaglik te maak. Die Bybel sê Hy is ʼn moordenaar en leuenaar van die begin. (Joh. 8:44)

Openbaring vertel grafies hoe die satan daarop uit is om die kerk te vervolg. (Openb. 12)

Oral is daar tekens van sy vernietigingswerk. Ek wil die duiwel nie eer gee nie, trouens daar is van hom niks goed te sê nie. Dit vra na ʼn delikate balans om enersyds bedag te wees, geklee in die volle wapenrusting van God (Efes. 6)  en andersyds vanuit God se voorsienige genade in volle vertroue te lewe. Die eerste en laaste sê oor my lewe kom van God. Ek is ʼn gedoopte en dra die verbondteken. Wanner die bose my sien weet hy dat hy homself op gevaarlike terrein beweeg. My lewe is onder die beskerming van God drie-enig en Hy sal nie toelaat dat ek, in die woorde van die Psalmdigter, my voet teen ʼn klip stamp nie. (Ps. 91)

Soos ons verstaan van God ʼn misterie is waarvan ons die volle omvang in hierdie lewe nie kan begryp nie, so is dit ook met die bose se werking. Wanneer is dit die duiwel en wanneer is dit die Here? Gebeur slegte goed met goeie mense omdat die duiwel die oorhand oor God gekry het of laat die Here dit doodgewoon toe? Maklike antwoorde en formules frustreer eerder as om te help.

Feit van die saak is dat die Bybel vertel van ʼn vyand wat oorwin is aan Golgotha`s heuwel in  die oorwinningstog van God deur hierdie wêreld gesleep word. (Jak. 4:7)

Alhoewel hy die lewe vir ʼn mens baie onaangenaam kan maak het hy nie die laaste sê nie.

Toeval en noodlot, nog die bose bepaal my lewenslot. Ek behoort aan die God wat my naam in sy handpalm graveer het en my nooit uit sy greep sal laat nie. (Jes. 49:16)

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]o.za) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here dat ons aan U die lewende God behoort….dat daar niks is wat ons ooit uit U hand kan ruk nie.

Agter die skerms.....

Dankie God vir gister. U het weereens aan my bewys dat U daar is al is dit met die kleinste goedjies en verwagtinge. Amen. Ek prys en loof U naam.