ToekomsVenster: Onder God se beheer

(Foto: Silvestri Matteo/Unsplash)

Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna ‘n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie. – Josua 10:13

Ons dink in hierdie dae na oor die betekenis en implikasie van die woordjie “totdat” soos dit in die Bybel voorkom, veral met betrekking tot ons situasie in Suid-Afrika met besondere verwysing na Covid-19.

Josua moet oorlog voer teen die vyande van Israel wanneer die beloofde land in besit geneem word. Die dag is te kort om die saak na behore af te handel en die vyand ʼn behoorlike nekslag toe te dien. Josua bid dat die son sal stilstaan en die Here verleng die dag bonatuurlik. ʼn Mens kan seker sê, Josua doen sy deel en die Here syne alhoewel alles tog genade is. Die son staan stil en so bewerk God ekstra tyd.

Daarmee word God se heerskappy oor die geskape werklikheid bevestig. God is bo sy skepping verhewe. Hy voer ook daaroor die heerskappy.

Daar is die dinge wat mense kan doen en daartoe word ons geroep. Ons is sedert die skepping besig om inhoud en uitvoering te gee aan die opdrag om die wêreld in belang van al sy mense op verantwoordelike wyse te bestuur. In die proses het ons onverantwoordelik opgetree en bronne, of uitgeput, of beskadig.

Ons word gereeld gewaarsku oor die trajek waarop ons ons tans bevind met verwysing na omgewingsaangeleenthede. Ons bestaan op aarde word bedreig en internasionale konferensies word gehou oor waartoe elke land homself moet verbind ten einde ons voortbestaan op aarde te verseker. Die feit van die saak is, dit gaan nie goed met die skepping nie en ons, die mense wat op aarde woon, moet ons optrede herbesoek.

Die natuur is onder God se beheer. Hy kan bonatuurlik ingryp maar as ons sy planne gedurig in die wiele probeer ry maak dit sake besonders moeilik. Die vraag in watter mate epidemies en ander uiterstes aan mense toegeskryf kan word, is nie teoreties nie. Die stukkende wêreld rondom ons is tog ʼn produk van ons eie ongehoorsaamheid.

Ons moet ons eie optrede herbesoek. Ons mag nie God se bedoeling deur ons eie onverskilligheid dwarsboom nie.

As God die son kan laat stilstaan, as Jesus die wind en see tot bedaring kan roep, as die Vader die Rietsee kan kloof, kan Hy Covid-19 in sy spore stuit. Die vraag is of dit met bekering en herbesinning van ons kant af gepaard sal gaan?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.