ToekomsVenster: Onder mense en deur mense

blomme-geel-deur-pok-rie-pexels

Foto: PokRie/Pexels.com

MATTEUS 4:23
En Jesus het deur die hele Galiléa rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees.

Dit is opmerklik dat Jesus mens word en onder mense kom woon. Mense kan met mense identifiseer. Mense deel ʼn leefwêreld van ervarings, teleurstellings, hartseer, drome en ideale, verwagtinge, ensovoorts.

Daar was by Jesus geen opgesmuktheid nie. Trouens die geestelikes van sy dag was teleurgesteld dat Hy so gewoon was. Die eenvoudigste in die samelewing het by Hom aanklank gevind. Hy was nie opgesmuk en vertonerig nie. Wat jy gesien het, is wat jy gekry het. He was “the real deal”. Hy was eg mens.

Ons almal ervaar uitdagings soms. Dit is juis die feit dat ander mense reeds deur ’n soortgelyke situasies is wat ’n mens vrymoedigheid gee om met hulle in gesprek te tree.

Wat weet ’n ryk mens van die trauma en onsekerheid van armoede behalwe natuurlik as hy ook op ’n tyd daar was? Wat weet iemand wat nog nooit siek was nie van die onsekerheid wat met erge siektetoestand gepaard gaan?

Dit beteken uiteraard nie dat so ’n persoon nie empaties en ondersteunend kan wees nie. Inteendeel.

Maar daar is iets voor te sê dat iemand wat self ’n pad geloop het waarskynlik meer sensitief in hul benadering en ondersteuning van iemand anders sal wees as iemand wat niks daarvan ervaar het nie.

Jesus het die pad van swaarkry, vernedering en verwerping gestap. Hy verstaan.

In watter mate is jy ’n mens onder mense en ’n mens vir mense? In watter mate deel jy jou gawes en talente, persoonlikheid en aanvoeling, omgee en deernis met ander mense?

Die evangelie het ’n vertikale en horisontale as. Ongeag van hoe vroom ons verhouding met God daaruit mag sien, indien dit nie op horisontale vlak gekonkretiseer word nie bly dit teorie.

Jesus het nie oor sy liefde vir mense geteoretiseer nie.
Hy het dit demonstreer.

Waar is die liefdestekens in jou lewe?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.