ToekomsVenster: Onderdanig aan mekaar


deernis

Argieffoto.

Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. – Ef 5:21

Onderdanigheid is nie ’n gewilde begrip nie. Daar is heelwat bruidspare wat deesdae vra dat ons asseblief nie die woord sal gebruik nie. Ek onthou hoe ek die dag voor hulle troue met ’n paartjie deur die beloftes gegaan het wat hulle sou herhaal. Sonder dat die bruid daarvan bewus was het ek grappenderwys ’n paar woorde in haar beloftes verander en dit aan haar voorgelees. Sy het dit herhaal en toe byna verstik op die woorde dat sy aan haar man ‘gehoorsaam’ en ‘onderdanig’ sal wees. Dit was natuurlik net ’n grap.

Wat hierdie bruid en baie mense wat hierdie woord hoor, nie verstaan of raaklees nie, is dat Paulus ’n totaal nuwe inhoud aan die woord gee. Net soos die woord ‘dien’ veronderstel die woord ‘onderdanig’ ook eenrigting verkeer. Dit veronderstel ’n meerdere en ’n mindere. ’n Mindere is onderdanig aan ’n meerdere. Nou skryf Paulus dat ons ‘aan mekaar’ onderdanig moet wees. Onderdanigheid se skerp kante word onmiddellik deur die woorde ‘aan mekaar’ stomp gemaak. Niemand is uitgesluit nie. Elkeen moet aan die ander onderdanig wees! Dis die lewenstyl van Christene: onderdanigheid aan mekaar.

As ons die konteks van hierdie vers in gedagte hou, word die betekenis van die woord nog duideliker. Eerstens voeg hy woorde by wat ons maklik miskyk: ‘Wees uit eerbied vir Christus’ aan mekaar onderdanig. Die woord ‘eerbied’ kan ook met ‘vrees’ vertaal word. In 1 Kor 5:11 verwys dit na die diens aan (vrees vir) die Here in die lig van sy wederkoms. Christus is regter wat sal oordeel (Sien ook 2 Kor 5:10). Daar is alle mense gelyk. Ons is aan Hom verantwoordelik. Dit verwys ook na die werk van Christus. Sodat Hy sy bruid, die kerk, se liefde kon wen, het Hy homself opgeoffer. Wanneer ons aan mekaar onderdanig is, volg ons Christus in sy selfopoffering. Ons gee ons eie posisie van mag prys.

Tweedens het Paulus pas verwys na die lewe onder beheer van die Gees (Ef 5:18). Dit is die onmiddellike konteks. Om deur die Gees vervul te wees is om onder die heerskappy of beheer van die Gees te wees. Ons is dus nie in beheer nie. Ons lewe deur die Gees van God. Dit lei tot gewoon tot eerbied vir Christus en onderdanigheid aan mekaar.

Derdens is onderdanigheid aan mekaar die sleutel tot alle verhoudinge, nie net die huwelik nie (Ef 5:21-6:8). Dit sluit die verhouding tussen gemeentelede, mans en vroue, ouers en kinders en werkgewer en werknemer in. Oral waar daar eerbied vir Christus is, waar mense onder beheer van die Gees lewe, sal daar hierdie gesindheid van onderdanigheid aan mekaar wees.

Hierdie woord is nie ’n skande vir die Christelike lewenswandel nie. Dis nie ’n woord waarvoor ons skaam hoef te wees nie. Dis die styl van mense wat Christus volg en eer. As daar meer onderdanigheid in die Christelike geloofsgemeenskap en gesinne was, sou daar ook minder konflik en meer liefde wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elize ·

Die woord “onderdanig” beteken ongelukkig nie vir almal dieselfde nie en gee blanke afrikaanse mans ‘n rede om hulle vrouens te beheer en te mishandel, want sy het dan nou in die kerk belowe om hom onderdanig te wees. Ek wonder of die 3-susters kerke besef watter probleme hulle met hierdie spesifieke woordjie veroorsaak. Die mans neem dit letterlik op. Geen mens hoef aan enige ander mens onderdanig te wees nie, maar vir seker wel ondersteunend wees en die man aanvul. Ek kan ook nie sien hoekom ‘n vrou moet onderdanig wees aan ‘n man wat nie aan God onderdanig is nie. Dis tyd dat daar ‘n behoorlike definisie aan gekoppel word of die woord vervang moet word met ondersteun. Ek glo nie dit was ooit die bedoeling in die bybel dat een mens ‘n ander mens oorheers nie en hierdie primitiewe siening daaroor het nie meer plek in die moderne samelewing nie. Baie huwelike het al verbrokkel omdat die man dit beskou as ‘n manier om die vrou te beheer en te manipuleer, so die kerk het dan eintlik indirek ‘n aandeel in ‘n klomp egskeidings. Predikante moet gaan sit en dink watse probleme daarmee veroorsaak word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.