Pred. 3:4 – ‘n tyd om te huil, ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te treur, ‘n tyd om van blydskap te dans.
Om te rou is ʼn eg menslike ervaring alhoewel dit nie iets is waarna ʼn mens uitsien nie. Rou hou verband met gebrokenheid, hartseer, pyn, verslaentheid en selfs belydenis.
Die Prediker leer ons dat daar ʼn tyd is vir alles onder die son, vir vreugde en blydskap enersyds maar ook vir hartseer en pyn en rou.
Die jaar 2020 was ʼn baie moeilike en uitdagende jaar. Net die feit dat jy of gesond gebly het of wonderbaarlik herstel het indien jy wel Covid-19 onder lede gehad het, is rede vir oorvloedige blydskap.
Mense se lewens is egter op baie ander maniere geraak. Die eensaamheid wat met hospitalisasie gepaard gegaan het, die eensaamheid van mense wat sterf sonder iemand om hul hand vas te hou en die geleentheid om afskeid te neem, die onsekerheid as jy in aanraking was met iemand wat Covid-19 onder die lede het, het alles ʼn dramatiese inbreuk op ʼn mens se lewe gemaak.
Bejaardes wat nie besoek kon ontvang van hul kinders nie en omgekeerd het die broosheid van verhoudings na vore gebring.
Om gedurig gemasker te wees, sosiale afstand te handhaaf en te saniteer, hoe voordelig ook al, is nie iets waaraan ons gewoond is nie. Hande was is een ding maar om nie jou broer en suster in die geloof te omhels, die Here se lof na behore te besing, as familie en sosiale kring volrond te kuier nie is pynlik.
Dit is al hierdie en ander ervaringe waarna ons nog sal verwys wat ʼn tyd van rou noodsaak.
In so ʼn tyd onderneem ʼn mens die reis “na binne”. Jy vra jouself af hoe die gebeure van die afgelope jaar jou en ander geraak het. Jy huil saam met die wat hartseer is. Jy huil oor jou eie ervarings. Jy neem tyd of gesond te word.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za