ToekomsVenster: Onderwerp julle dan aan God

onder-bome-boom

Foto: Casey Horner/Unsplash.com

Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. – Jak. 4:7

Jakobus stapel die opdragte nou met mening op. Hy is baie eerlik en reguit en noem dinge by die naam. Hy spaar niemand se gevoelens nie. Dis reg of weg. Ek wonder stellig of ons nie meer van hierdie tipe teregwysing nodig het nie.

Ons het gemaklik geraak met God en sy Woord. Christenskap het ʼn reg geword in stede van ʼn voorreg. Ons dink stellig dat ons God ʼn guns doen om in Hom te glo terwyl dit die teenoorgestelde is. Ons is meer dikwels slordig in ons toewyding en het bekering nodig.

Onderwerping aan God is nodig. Dit beteken om jouself bewustelik, willens en wetens voor die Here te verootmoedig en jouself aan Hom diensbaar te maak.

In stede dat die duiwel vir alles die skuld kry moet hy weerstaan word. Ek wonder hoe dikwels moet die duiwel pa staan vir die keuses wat ons maak. Ons het so gewoond geraak om soos Adam en Eva in die paradys of mekaar of die duiwel, ja selfs God aan te kla.

Geestelike volwassenheid is om jou verantwoordelikheid voor God na te kom en nie weg te kruip agter allerlei verskonings nie. Kom terug na die Here toe is wat Jakobus sê.

“Jesus is either Lord of all or not Lord at all” lui die spreekwoord.

Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie? Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” – Matteus 7:21-22

Sy raad, eintlik opdrag is, weerstaan die duiwel en hy sal van jou wegvlug. Neem net standpunt in deur die krag van die Gees; die bose is nie daarteen bestand nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Margi Palmer ·

Klink interessant met verskilende artikels en klink aangenaam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.