ToekomsVenster: Ons behoort aan die Here

vrou-bid-gebed

Foto: Ben White/unsplash.com

Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. – Rom. 14:7

Begrafnisse is oor die algemeen nie aangename belewenisse nie. Daar word meestal trane gestort, harte is stukkend, die verlange is oorweldigend en ja, somtyds is daar verwyte oor wat gesê of nie gesê, gedoen of nie gedoen is nie.

Begrafnisse, afskeid van die aard is deel van ons werklikheid en sal deel daarvan bly tot met Jesus se verskyning op die wolke.

In ons geloofsgemeenskap is dit gebruiklik om die begrafnisformulier voor te dra. Dit word opgevolg met die bekende Geloofsbelydenis.

Die begrafnisformulier herinner ons daaraan dat die lewe kortstondig is en ons broosheid groot is. Ons word geroep om in die lig van wat Jesus vir en namens ons gedoen het die lewe in ’n nuwe lig te beskou. Dan word Paulus se bekende woorde aangehaal. Ons leef nie vir onsself nie, ons sterf ook nie vir onsself nie. In lewe en sterwe gaan dit oor die eer van die Here. Dit moet in alles vooropstaan. Die troos wat daarmee saamgaan is dat ons in lewe en sterwe aan Jesus behoort. Ons word gekoester in sy beskerming. Ja, nie eers ’n haar val van ons hoofde sonder dat Hy daarvan bewus is nie. Ons name is in sy handpalm gegraveer. Niks en niemand kan ons van Hom skei nie. Hy is ons toevlug en veilige vesting. Ons identiteit is in Hom.

Dit troos so baie, die wete dat die lewe nie, maar met my kan doen wat hy wil nie. Ek is nie uitgelewer aan omstandighede sodat ek soos ’n bootjie op die stormsee moet klou vir al wat ek werd is nie. Ek is syne en Hy is myne.

Soos ek aan Hom behoort, behoort Hy aan my. Ons is God se eiendomsvolk wat nadat ons taak op aarde afgehandel is die ewigheid by Hom sal deurbring.

In lewe en in sterwe behoort ons aan die Here. Halleluja!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.