ToekomsVenster: Ons beleef die perfekte storm


mense-gesels_mistig_berg_stiltetyd_pixabay.jpg

Matteus 4:1 Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. Veertig dae en veertig nagte het hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword. Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”

Die gemeentes waarvan ons deel is, moet ons help om die lewe reg te lees en te verstaan. As die gemeente die konteks reg lees, sal die gemeente nie wêreldvreemd wees nie en sal ons as gestuurdes weet hoe dit buite die kerk se grense lyk.

Ons kan die omstandighede waarbinne ons kerk moet wees in Suid-Afrika tans beskryf as die perfekte storm. Hierdie perfekte storm sluit ’n post modernisme in en daarmee saam ’n post Christendom, die geweldige ontploffing in tegnologie en kennis en die ontdekking op wetenskap en argeologiese terreine.

Post-Christendom is wanneer al hoe meer stemme opgaan dat die Christene se tyd verby is. Christene het hulle kans gehad en hulle kon nie van die wêreld ’n beter plek maak nie. Kyk net na al die oorloë wat tans in die wêreld woed. Die tegnologiese storm sien ons elke dag om ons gebeur. Die tegnologie verander byna uurliks, nie eers meer jaarliks nie. Argeologie wat gaan oor die opgrawings – bring elke keer meer kennis tafel toe wanneer ons oor die Bybel praat. Die argeologiese opgrawings help ons om die Bybel beter te verstaan. Dit leer ons hoe die mense van die Bybel geleef het, wat hulle konteks was.

Hierdie drie storms vorm saam die perfekte storm.

Ons teks vandag is juis die versoeking van Satan aan Christus. Ons as gelowiges, kerkmense, sal mekaar moet vashou om te keer dat hierdie perfekte storm nie die grootste versoeking word vir ons geloof nie. Ons vraag sal elke keer moet wees: Hoe help hierdie storms ons om die evangelie as gestuurdes beter te verkondig?

Gebed:

Vader, wanneer ons om ons kyk, word ons beangs. Die wêreld het soveel uitdagings. Ons lewe en dié van ons familielede is elke dag midde in hierdie storms. Hoe hanteer ons dit? Help ons om vas te hou aan U. Amen.

Leefwyse:

Wat het die laaste jare in jou lewe alles verander? Watter tegnologiese hulpmiddels gebruik jy? Selfone, WhatsApp, sms, Google ens.

Iets om vandag oor na te dink:

Na aanleiding van die gedeelte wat ons gelees het: Hoe hanteer ons hierdie veranderings? In Jesus se geval word dit beskryf as versoekings. Dink jy die kerk moet nie tegnologie gebruik nie of dink jy die kerk moet dit omarm en sy bediening daarmee verryk? Dink maar vir ’n oomblik aan webwerwe en Facebook.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.