ToekomsVenster: Ons God is naby

Foto: Jill Heyer/Unsplash.com

Ek is nie ‘n God wat net naby is nie, sê die Here, Ek is ‘n God wat ook ver weg is. – Jeremia 23:23

Mense het verskillende persepsies van God en sy betrokkenheid aldan nie by dit wat hier op aarde uitspeel.

Sommige glo dat daar hoegenaamd geen God is nie. As dit verby is is dit verby. Die lewe is koud en wreed maar daarmee maak ʼn mens gaandeweg vrede. Dis hoe dit is en jy kan daaraan niks verander nie. Ander erken dat daar ʼn Godheid is maar dat Hy in beginsel onkenbaar is. Hy hou Homself verskuil en sy bestaan maak geen appel of verskil aan ons bestaan op aarde nie.

Ander weer sê daar is verskeie gestaltes van God en alle paaie lei na Hom. Om een godsdienstige paradigma tot die heersende te verhef is arrogant en onnodig. Werk jou eie heil met vrees en bewing uit.

Ander getuig van God maar een wat ʼn op ʼn afstand dit wat gebeur gade slaan. Hy het die mensheid aan sy eie genade oorgelaat. Iets van daardie bekende lied, “From a distance” wat deur Bette Midler gesing word: “God is watching us. God is watching us. God is watching us from a distance”.

Christene glo dat God naby en ver is. Hy is ver in die opsig dat Hy verhewe bo alles en almal is. Hy sien alles en weet alles. Hy is almagtig en in beheer. Hy is ook naby en is dit in besonder met die menswording van sy Seun.

Jesus demonstreer God se ingesteldheid jeens ons. In Christus leer ons God ken. Jesus is die openbaring van God.

Wie my gesien het het die Vader gesien. Ek en die Vader is een. – Joh.10:30

Hy is ons Vader deur Jesus, ons is seuns en dogters van God burgers van sy Ryk op aarde en mede erfgename met sy Seun Jesus Christus. Hy is nie ver en verwyderd en verveeld met ons nie. Hy is teenwoordig deur die werk en bediening van die Heilige Gees en werk in en deur die lewens van sy verteenwoordigers.

Hy het sy liefde aan ons geopenbaar en doen dit steeds. Ons verstaan by verre nie alles van Hom nie maar weet genoeg om te glo dat Hy dit opreg bedoel met ons. Ons God is naby.

Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. – Jesaja 55:6

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.