ToekomsVenster: Ons Here is ’n majestueuse koning

Foto:
Michał Parzuchowski/Unsplash.com

Majesteit en luister straal van Hom uit, krag en glans vul sy heiligdom. – Psalms 96:6

Ons ken nie ʼn bestel met konings hier by ons in Suid-Afrika nie. Ons staatsbestel is veel anders. Ons leef in ʼn sekulêre staat waar baie simboliek verlore gegaan het. Af en toe word ons ʼn kykie gegee in die kleurryke lewens van die adellikes. Ons word in hul paleise ingenooi en deel in hul vreugdes. Ons maak kennis met die leefwêreld van prinse, prinsesse, van Lords en Sirs. Ons besoek statige katedrale waar koninklike seremonies met pynlike presisie uitgevoer word. Ons sien hoe swaard en septers rondgedra word. Burgerlikes en onderdane buig eerbiedig as “u hoogheid” verbykom.

Dis ʼn sprokieswêreld van vertonerigheid en swier. Dis mooi maar baie van ons sal redeneer ietwat kinderagtig in ʼn baie reële en nugter wêreld.

Ek wonder tog of ons nie die misterie van die lewe misloop nie. Dit is fabels en stories wat ons verbeelding aangegryp het toe ons klein was. Wanneer het ons so voorspelbaar rasioneel en vervelig geraak?

God egter is nie ʼn karakter in een of ander bekende skrywer se storielyn nie. Hy is inderdaad die Koning onder die konings. Die Bybelse konteks het die realiteit van konings goed geken. Aristokrasie en monargie was aan die orde van die dag. Sommige van die koninklikes het hul posisie klaaglik misbruik en hul onderdane tot desperaatheid belas en vervolg. Ander het die volk gedien soos ʼn waardige monarg doen.

Ons Here is ʼn majestueuse koning. Niks daarvan is kamma-kamma nie. Dis nie aardse seremonie nie. Dis ʼn hemelse werklikheid. Hy is verby beskrywing merkwaardig. Hy is al die eerbewyse wat ons bymekaar kan maak, waardig.

Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.” – 2 Petrus 1:17

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.