ToekomsVenster: Ons het die blye boodskap ontvang

(Foto: Markus Spiske/Unsplash)

Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. – Hebreërs 4:2

Die skrywer rig hom aan die adres van Christene wat oor die hele destyds bekende wêreld verstrooi is terwille van hul geloofsvertroue.

In hierdie gedeelte handel hy met die “rus” wat vir die gelowiges beskore is. Die volk van die Here in die ou Testament het ten ten spyte van die baie beloftes en wonderdade van God, nie geglo nie en die rus nie binnegegaan nie.

Om van rus te praat wanneer alles rondom jou onrustig is, is interessant en amper onrealisties.

Dit laat my dink aan daardie pragtige dogtertjie van wie daar ʼn video versprei is waar sy ernstig bid: “Here Jesus, maak tog my mammie rustig, rustig, rustig, ook vir sussie en duiwel, gaan uit hierdie huis uit!” Miskien kan jy dit onthou?

Die teks vertel van die futuliteit van ongeloof. Dit baat niks nie.

Die regverdige sal uit die geloof lewe, sê die Bybel.

Die gedeelte laat my ook dink aan die saad wat op verskeie plekke geval het. Net ʼn klein persentasie van die belegging het ʼn opbrengs gelewer.

Waarom kies mense dan om nie te glo wat hulle gehoor het nie? Waarom is die grond waarop die saad val so ellendig vlak?

Die gelykenis van die saaier gee ʼn paar antwoorde, die sorge van die lewe, die verleiding van die wêreld, die druk van mense, jou reputasie en gewildheid, so kan ʼn mens aangaan. Die saad plant is net een deel van die proses. Die saad moet ontkiem en volhardend groei sodat dit vrug kan voortbring.

Dit is ʼn gawe om te midde van al die onstuimigheid rondom ons steeds ʼn geloofsvertroue te hê.

Die skrywer praat van rus. Dit is ʼn metafoor vir gegrond wees, vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Die vraag is, het die Woord se saad in ons effek, of is ons net so moedeloos en troosteloos soos die res van die mense?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.