ToekomsVenster: Ons het geduld nodig

(Foto: Markus Spiske/Unsplash)

Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ‘n tyd om gebore te word, ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant, ‘n tyd om plante uit te trek – Pred. 3:1-2

Die teks in Prediker is oorbekend en net so van toepassing op die saak van saai en oes. Sonder dat hy dit duidelik sê kan ons byvoeg: “daar is ʼn tyd vir saai en daar is ʼn tyd vir oes”.

Die tydsverloop tussen die twee aktiwiteite is opmerklik. Dalk is jy ewe ongeduldig as ek wanneer dit by plant kom. Die saadjies is skaars onder die grond of die ongeduld begin te groei. As die groen spruitjie nie binne dae bo die grond verskyn nie, grou ek die saadjies op om te sien wat dan aan die gebeur is. Dit is natuurlik dom omdat die groei van daardie saad inhibeer word. Die proses neem tyd en ons het geduld nodig.

Dit is ook so dat ʼn mens dikwels in een seisoen saai en in ʼn ander seisoen oes. Jy saai in die lente en oes in die somer of jy saai in die herfs en oes in die winter.

Geduld is nodig as ons gaan ontvang wat God vir ons in gedagte het.

Die wagperiode is nie ʼn tyd van lui wees en niks doen nie. Daar is altyd iets waarmee ons besig moet wees.

Ons saai tog nie net een soort saad en dink dat alle behoeftes daarmee aangespreek is nie, inteendeel.

Iemand het ʼn waar woord gespreek toe hy gevra het waarvan het jy meer in jou lewe nodig. Geduld, geloof, vrede, vergifnis, warmte en aanvaarding of liefde – saai dan van daardie saad. Moenie moed opgee nie.

Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug. – Prediker 11:1

Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. – Jesaja 44:3

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.