ToekomsVenster: Ons het ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar

Argieffoto: Pixabay

My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word. – Jak. 5: 19-20

Dis moeilik om iemand tereg te wys maar dis Bybels verantwoord en broodnodig. Ons het ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar. Met watter verweer sal ons voor God staan as Hy van ons vra waarom ons nie toegetree het toe ons gesien het dat ʼn broer of suster, ʼn medegelowige, die pad byster raak nie. Uiteraard loop ʼn mens die risiko dat die ander persoon geaffronteer sal voel en jou selfs sal slegsê. Dit mag die einde van ʼn vriendskap beteken. Jy mag van geestelike meerderwaardigheid en hoogmoed aangekla word. Dit is ʼn geringe prys om te betaal as ʼn mens dink aan die hartseer en seer wat daardie persoon nie alleen aan homself nie maar ook aan ander mense gaan berokken sou hy op die verkeerde pad volhard.

Uiteraard is daar ʼn manier om dinge te doen. Liefde moet die motivering wees. Nederigheid daarmee saam. Vra toestemming om oor ʼn bekommernis te praat. Sê jy wil nie aanstoot gee nie maar omdat jy omgee vir daardie persoon neem jy vrymoedigheid. Moenie van ʼn morele hoë grond kom nie. Onthou waar God jou kom haal het en hoe groot sy genade in jou lewe is.

But for the grace of God there goes I

Een van die merktekens van kerk wees is dat die tug toegepas word. Nie tug as vervreemding nie maar as vermanende begeleiding en ondersteuning. Ongelukkig het die tug in onbruik verval en is die teendeel dat openlike sonde in die gemeente akkommodeer word. Uiteraard is ons almal sondaars. Woordverkondiging, veral skuldbelydenis tydens die erediens, help ons om met daardie verkeerde te deel. Daar is sprake van ʼn voortgaande bekering. Die Woord nooi ons uit om van skuld en sonde ontslae te raak.

Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. – Jes. 1: 18

 

Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. – 1 Johannes 1: 9

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.