ToekomsVenster: Ons is liggaam, siel en gees

(Foto: Nick Fewings/Unsplash.)

“Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: ‘Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle’.” – Lukas 18:16 (AFR83)

“Die Here het my mooi gemaak” sing die kinders. Met berekende bewegings word koppie, lyfie en voete aangedui. Dan swaai die heupies op die maat van musiek wanneer die woorde, “doen dit lyfie” gesing word.

Die mens is liggaam, siel en gees. Die aspekte van menswees kan onderskei word, maar die mens is essensieel en onafwendbaar een.

Eenvoudig gestel is ʼn mens se liggaamlikheid die wyse waarop jy jouself, ook in onderskeiding van ander, na buite aanbied. Tereg vra ons die vraag: “Hoe lyk hy of sy?” en beskryf mense dan op grond van fisieke en uiterlike hoedanighede.

Die sielsdimensie verteenwoordig die wyse waarop jy jou oortuigings verpak en uitleef. Dit het met die keuses wat jy uitoefen te maak, jou wil en denke.

Alle mense, ook die wat dit ontken, het ʼn geestelike of spirituele aanvoeling. Selfs al ontken jy daardie aspek van jou menswees, neem dit die realiteit daarvan nie weg nie.

Christene staan in verhouding met die Lewende God en is kragtens die wedergeboorte as’t ware herbedraad. Persoonlike wil en oortuigings maak plek vir hoe God dinge wil doen. Hy word as die Opdraggewer, ook die Een wat die lewe gee en voortdurend moontlik maak, herken. Dit wat ek van Hom verstaan, leer en glo vind uitdrukking in my gedrag wat liggaamlik uitgedruk word.

Iemand wat onverskillig leef en bly leef getuig daarmee dat die vernuwing van sy gees nog nie plaasgevind het nie. Gevolglik is sy manier van leef en doen meermale self-gesentreerd en selfsugtig. Iemand wat deur die Gees van die Lewende bewoon word se waardes verander. Ander en God kom op die voorgrond en self word as ʼn instrument in diens van die Vader beleef.

Jesus het ons inderdaad mooi gemaak. Wat Hy in die paradys gedoen het skitter van Goddelike heerlikheid. Ongelukkig neem die bose nie genoeë met dit wat mooi en goed is nie en bring hy die sonde in die wêreld om iets van die huweliksformulier aan te haal. Die uitwerking daarvan sien ons grafies uitspeel in ons wêreld.

Ons moet terugkeer na God se oorspronklike bedoeling en iets van ons eie mooiheid, eintlik Goddelike mooiheid, herontdek, koester en uitleef.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.