ToekomsVenster: Ons is ons eie grootste vyande

(Argieffoto)

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ – Matteus 22:37-39

Ek wil graag gedurende hierdie week gedagtes wissel oor jy en jouself. By die eerste hoor mag jy wonder waarvan ek praat en hoe daar sprake kan wees van jy en jouself. Is jy en jouself dan nie dieselfde persoon of entiteit nie? Inderdaad en tog, as die Bybel sê dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, impliseer dit tog afstandelikheid, ongeag die feit dat dit een en dieselfde mens is.

Ek wonder of jy al iets gesê het soos “ek voel nie vandag myself nie” of “ek sê vir myself”.

Iemand anders mag vir jou sê “jy moet na jouself kyk” of “jy moet jouself nie so ontstel nie”.

Jy en jouself staan in ʼn baie intieme verhouding met mekaar en daar is letterlik niks wat jy weet wat jouself nie weet nie, en omgekeer.

Jy en jouself kom van geboorte af saam. Julle is onafskeidbaar en het gedurig met mekaar te doen.

Dit is egter so dat jy nie altyd jouself ernstig opneem, genoeg krediet gee, beskerm of aan die woord stel nie.

Jy en jouself leef dikwels in vyandskap met mekaar saam.

Jy hou nie van jouself nie, jy is nie tevrede met jouself nie, en so kan ek die voorbeelde vermenigvuldig.

Dit is belangrik dat jy en jouself versoen met mekaar lewe, dat jy en jouself empatie met mekaar het, dat jy en jouself boesemvriende is. Jy het nodig om jouself te komplimenteer en te versterk. Jy kan jouself, hoe vreemd dit ook al klink, beloon met iets lekkers, sommer net bederf omdat jouself jou vertroue waardig is, omdat jouself nie oor jou skinder en stories aandra nie, omdat jouself vir jou ʼn leeftyd dra en verdra.

Die omgekeerde is egter meermale waar. Ons is ons eie grootste vyande. Ons karnuffel en verkleineer onsself. Ons verwens onsself en wou anders gelyk, gepraat, gedink en gehandel het. Ons verwyt onsself en verwag dat onsself daarmee genoeë moet neem.

Wonder of jy hierdie week so ʼn bietjie daaroor wil nadink. Hoe gaan dit met jou verhouding met jouself?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.