ToekomsVenster: Ons konteks, Suid-Afrika, vra gebed

son-deur-koring-deur-juanita-badenhorst

Foto: Juanita Badenhorst.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. – Filippense 4:6

Suid-Afrika is ons almal se land. Ons is hier gebore en die meeste van ons sal hier sterwe. Die meerderheid wil nie op ʼn ander plek wees en bly nie. Ons land is mooi en ons land is geseënd.

En tog gaan ons land gebuk onder buitengewoon uitdagende omstandighede.

Ons stryd is nie teen mense nie maar die bose. Die Bybel maak dit duidelik dat ons vyand, die duiwel, soos ʼn brullende leeu rondstap en naarstiglik soek na ʼn prooi wat hy kan plattrek.

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. – Efesiërs 6:12

Ongelukkig slaag hy uitmuntend daarin. Die lewe lyk soos ʼn slagveld in Suid-Afrika. Die voorkoms van moord, bloedvergieting, verkragting en geweld is ondraaglik hoog. Selfs een mens wat brutaliteit moet verduur, is te veel.

In ons land dreig die statistieke met betrekking tot misdaad en geweld om ons te desensitiseer.

Dis net ʼn syfer en dis net nuus.

Ons bou die mure hoër rondom ons en beleef ander se trauma as iets wat daar ver is.

Maar dit is nie ver nie. Dis rondom ons. Soms is dit binne ons.

By baie is daar ongekende vlakke van aggressie.

Gelowiges het egter die uitnemende voorreg van gebed. Gebed is nie tydverdryf, formaliteit of gewoonte nie. Dit is krag in aksie.

Waarom God besluit het om op hierdie wyse te werk is sy saak. Dat gebed “werk”, is egter ʼn feit.

Gebed getuig van ons afhanklikheid van God, dit gee perspektief as ons met die Here praat oor ons kwellinge en bekommernis; dit getuig van ons geloof en dit maak ons medewerkers in die koms van sy koninkryk.

Dis al genoeg rede om te bid.

Ook vir ons geknelde land.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Von ·

Dankie Here vir die kragtige werking van gebed. Ek bid vir ons land en al sy mense dat U wil sal geskied. Vergewe asb ons menigvuldige sondes was ons skoon deur Jesus bloed. Amen

Bertie ·

Dankie Here, vir die voorreg om nog te mag bid; dat ons nie vervolg word omdat ons U naam aanroep nie. Dankie vir ‘n Goddelike ingryping in Suid-Afrika. Bid spesiaal vir ons boere EN hul gesinne maar ook almal wat hierdeur geraak word. Jesus, bewaar ons asb?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.