ToekomsVenster: Ons moet verander word

sonsopkoms_wolke_nuwe-dag_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

So is dit ook met die opstanding van die dooies: ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. – 1 Kor.15:42 en 44

Ons het gedurende die afgelope week deur verskeie fasette van die opstandingsliggaam gewerk. Teenoor die verganklikheid van ons huidige bestaan, staan die onverganklike van ons toekomstige liggaam. Die teenswoordige is gering en die toekomstige vertoon die heerlikheid van Jesus se opgestane gestalte.

Paulus maak twee verdere opmerking oor ons opstandingsliggaam: Die oue is swak, maar die nuwe is vol krag.

Die Boodskap vertaling sê in vers 44: “Ons sterf as gewone aardse mense, maar ons gaan lewendig word in ’n nuwe geestelike liggaam.

Oor die swakheid van ons huidige bestaan hoef ʼn mens nie uit te brei nie. Covid-19 het ons vatbaarheid vir allerlei ellendes grafies kom onderstreep. Ons is nie weerbaar teen die aanvegtinge van die lewe nie. Ons word siek en as ons lank genoeg gespaar bly, word ons oud. Ons het vroeër ook daaroor gesels met verwysing na Prediker se beskrywing van die ouderdom. Daar teenoor, die kragtigheid, die veerkragtigheid van die opgestane liggaam. Die Engels praat van “weakness” en “power”, geringheid, swakheid en krag.

Ons leef tans in ʼn natuurlike liggaam, die toekomstige is geestelik.

Dit kanselleer nie die fisiese opstanding van die liggaam nie, die bedoeling is dat ons aardse aptyte plekmaak vir die hemelse. Vlees en bloed kan nie deel kry aan die Koninkryk van God nie, leer die Bybel ons.

Ons moet verander word. In ons ewige woning sal ons volledig deur die Heilige Gees beheer word, ons sal gewillig onder Sy leiding voortleef.

Die teenswoordige is ʼn gestalte van die eerste Adam, die toekomstige, van die tweede, die hemelse Adam, Jesus Christus ons Here. Die eerste het ons voorgegaan in rebellie en opstand teen God en sy gebod. Die tweede het ons vrygekoop van die mag van die sonde en die belofte van die ewigheid in sy teenwoordigheid gegee.

Hy sal ons nie teleurstel nie. Glo jy dit?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.