ToekomsVenster: Ons plek van aanbidding


ng-kerk-waterberg

Markus 11:17 Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ’n huis van gebed vir al die nasies wees’ nie? Maar julle het dit ’n rowersnes gemaak.”

Die kerk (gebou) as bymekaarkomplek van gelowiges is belangrik.

Ons kerkgeboue vorm baie keer die basis van ons aanbidding. In ons geboue kom ons bymekaar, droom saam, beplan en aanbid saam. Kerkgeboue het deur die jare baie verander. In die vyftiger- tot sewentigerjare is die geboue só gebou dat die fokus op die kansel is waar die Bybel oop kan lê. Later, in die laat tagtiger- en negentigerjare, het die argitektuur só ontwikkel dat dit gegaan het oor die lidmaat wat kerk bywoon. Die stoele is sag, die liturgiese ruimtes, m.a.w. die ruimte voor in die kerk, is ingerig soos televisie-uitsendings; groot rusbanke met ’n koffietafel en dan geen kansel nie. Skerms van videoprojektors het gehelp dat lidmate beter kan sien.

In die begin van die 2000’s het die aksent weer begin skuif na ervarings toe. Nogsteeds net soos in die tagtiger- en negentigerjare was die middelpunt die lidmate. Die ontwikkeling van ikonografie – (om kuns te gebruik om mense na die Here toe te lei) het al sterker begin ontwikkel. In die geboue is ruimtes geskep waar mense (lidmate) kon ervaar – byvoorbeeld die meditatiewe manier van aanbid. ’n Manier waar jy kans kry om stil voor God te buig en te bid. Gemeentes het beelde en metafore gebruik om die boodskap te verduidelik. Gemeentes het ook kerse wat hulle brand ingebring. Ander weer het die kerse in die kerk aan lidmate gegee sodat hulle die kerse vir lidmate wat dalk siek is, kan gaan gee. Die kers word dan die simbool van lig, die ewige lig, wat aangesteek en aangegee word.

Ek en jy moet help dat die gemeente ’n fyn balans beoefen wanneer dit by ons geboue kom. Dit is belangrik dat die gelowiges ’n plek (kerkgebou) het waar hulle kan aanbid. Nog belangriker is dat die gebou nie al die bronne (geld en energie) moet insluk om dit in stand te hou nie.

Gebed:

Here ek aanbid saam met gelowiges in hierdie gemeente. Help ons om ons geboue, geld en getalle reg te bestuur. Dit moet gaan oor U en nie ander sake en goed nie. Wys U die pad. Amen.

Leefwyse:

Bid vir die mense wat julle finansies en geboue bestuur. Hulle het opdrag van die gemeente om dit na die beste van hulle vermoëns te doen. Tog moet ons die Gees vertrou om te hoor wat ons moet doen.

Iets om vandag oor na te dink:

Die gelowiges wat saam met jou aanbid – knoop met hulle ’n gesprek aan oor wat hulle dink van die gemeente. Dink hulle daar word te veel aandag gegee aan geboue? Ons is tog na alles gestuurdes in die wêreld. Het ons geboue nodig?

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.