ToekomsVenster: Ons sukkel met wag

(Foto: Magnus Lindvall/Unsplash)

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” – Handelinge 1:8

Die dissipels was bevoorreg om vir drie jaar aan die voete van Jesus te sit en luister. Dit was geleefde onderrig. Jesus het nie alleen geleer nie, maar dit ook gelewe. Die uitdagings wat ons somtyds het om Woord en werklikheid by mekaar uit te bring was nie vir hulle ’n probleem nie. Jesus het geleef wat Hy verkondig het. So ’n groot voorreg maar ook verantwoordelikheid waarmee die dissipels vertrou is.

Die interessante is dat hul kennis volgens Jesus nie genoeg is en was om hul effektief te maak in die uitvoering van die opdrag nie. Die opdrag, sal jy onthou, hou verband met die Koninkryk van God. Jesus se dissipels word volgens Matteus 28:19 na die wêreld gestuur met die opdrag om van mense dissipels te maak. Jesus maak dit duidelik dat hulle dit nie in eie krag kan doen nie. Daarom word hulle geroep om eers te wag op die belofte.

Ons sukkel met wag.

Voortvarendheid is ’n verleentheid in die Koninkryk. Ja, die Gees van die Here woon en werk in en deur ons, maar daar is ook ’n wag verbonde aan ons dienswerk. Fyn luister en onderskei wat die strategie is wat die Here wil volg ten einde sy doel met ons te bereik.

Hy ken die beste pad, die beste aanslag, Hy het die woorde. Hy weet hoe, waar en wanneer. Voordat ons halsoorkop betrokke raak by ’n saak, behoort ons ’n houding van wag in te neem.

Wag is ’n gebedshouding, dit is ’n metafoor vir afhanklikheid, gehoorsaamheid, afwagting en geloof. ’n Volle tien dae verloop voordat die Gees opdaag. Die versoeking was seker groot om teen dag vier of vyf te dink dat hulle Jesus verkeerd verstaan het. Opmerklik dat Hy nie aangedui het hoe lank hulle moet wag nie.

Ongeduld sou maak dat hulle die seën misloop. Die volle tyd moes verloop en die dissipels moes dit deursien.

Ons gee maklik en gou op. Ons leef in ’n verbruikers en kits konteks. Dit is ’n deurry-wêreld waarin ons woon. Ons is nie goed met wag nie.

Wat is dit waarvoor die Here sê jy moet wag? Moenie in ongeduld verval nie, want Hy stel nooit teleur nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Menan ·

Our God is God of number 99. Never late. He always delivers. Daai een minuut voor 12, wanneer jy dink daar is nie uitkoms nie, kom die uitkoms. Ja, ons mense is te haastig want ons is gewoond daaraan dat wanneer ons die vinger klap, dan kry ons wat ons vra, bv. “bring vir Mamma ‘n glas water” en die kind sal dadelik die water bring. Netso verwar ons hierdie “dadelik” wanneer ons bid en vir iets vra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.