ToekomsVenster: Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik

man_stap_sonsondergang_stiltetyd.jpg

(Foto: Pixabay)

Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd. – 2 Korintiërs 4:17-18

Daar is te veel swaarkry en hartseer in die wêreld.

Wat sou God se bedoeling met die lyding wees?

Waarom voel dit soms asof Hy eenkant staan en afsydig toekyk?

Soveel vrae – veral as ʼn mens die vernietigende gevolge van Covid-19 bedink.

 

Wat is tog dan die sin van dit alles?

Staan Hy verleë voor die uitdaging?

Gaan ons dit oorleef?

Is ons sterk genoeg om die teistering te weerstaan?

Sê nou ons sak iewers langs die pad uit, sal Hy ons kom haal of sal Hy ons verwyt oor ons gebrek aan geloofsvertroue?

 

Daar is geen maklike antwoorde nie en maklike antwoorde maak die swaarkry dikwels nog erger. Toegegee, mense probeer help en ondersteun maar is self onbeholpe met die uitdagings van die lewe. Miskien moet ʼn mens maar liewer net stilbly, luister, omhels en praktiese bystand verleen eerder as om te probeer verduidelik. Wie kan God verduidelik en is dit Hy wat die swaarkry bring, toelaat, ja, hoe moet ʼn mens daaroor dink? Te veel vrae, te min antwoorde, te veel gebrokenheid, te min troos, so voel dit.

 

Die teks bring die perspektief van alles op die tafel. Dit is oorweldigend en onverstaanbaar maar dit gaan verby.

Daar kom ʼn dag waarin alles herstel, volmaak herstel sal word.

Die heerlikheid sê die teks oortref alles by verre, in besonder die hartseer.

Lyding en swaarkry van die hier en die nou.

Sigbaar en onsigbaar, tydelik en ewig, hemel en aarde, tans en die toekoms.

 

Ek weet nie of dit troos nie.

Ek kan dit nie vir jou doen nie.

Goddank ek is nie die Trooster nie,

Hy is, Immanuel, God met ons, Vader, Seun en Gees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Belindah ·

Ek weet en vertrou Onse Vader, Ons Verlosser en Trooster, Jesus Christus en Die Heilige Gees het net die beste bedoelings vir ons…dit is wel menslik om te voel soos ek vanoggend, hartseer, bekommerd en vrae…ons mag nooit Ons Vader bevraagteken nie…in omstandighede waarin myself bevind en soveel ander is dit moeilik om staande te bly en tog help Vader mens elke keer…net soveel hartseer orals…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.