ToekomsVenster: Ons verhouding met God

Foto: Aaron Burden/Unsplash.com

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. – Spreuke 4:23

Op pad van Pretoria na my huis in Krugersdorp hoor ek die refrein van die liedjie raak. Jy weet mos hoe ʼn mens byna op outomaties ry en luister en hier en daar van indrukke bewus word. Ja, ʼn mens moet baie meer bewus wees van wat om jou aangaan. Ek staan skuldig.

Ene Adam Lambert sing in sy eie woorde van daardie eerste keer, wat dit ook al vir verskillende mense mag beteken. Die euforie, ekstase, meesleur, verwondering, vreugde van die eerste keer bly iets waarna ʼn mens weer en weer jaag. Dit voel asof jy nooit weer daardie selfde gevoel so intensief beleef nie.

Hy praat van die eerste keer wat hy op die verhoog verskyn het. Daardie oomblik bly hom by. Sedertdien probeer hy dit herskep maar sonder sukses.

Toegepas op die geestelike lewe wonder ek of die dag toe Jesus vir jou ʼn werklikheid geword het nog so duidelik en helder voor oë is. Ek onthou dit spesifiek. Dit was 26 Januarie 1977, nege uur die aand. Die wind het buite liggies gewaai en my broer het in dieselfde kamer gelê en slaap. Ek was diep bewus van iets wat in my binneste aan die gang is en dat ek daarop moet antwoord. Ek het na buite gegaan en vir die Here gevra om my lewe oor te neem. Ek het aan Hom bely dat ek nie sonder Hom kan lewe of kan sterwe nie. Ek is radikaal op Hom aangewese.

Wat gebeur en hoe dit gebeur het, weet en verstaan ek nie heeltemal nie. God is ʼn waarmaker van sy Woord. Ek het intens bewus geword van sy teenwoordigheid en vrede en vreugde het oor my gespoel. My hart het spontaan gesing en dit het vir dae aangehou. Ek was verlief op die Koning. Die vraag is uiteraard of ek nog verlief is op Hom en of daardie gevoel met verdrag op die agtergrond geraak het. Ons bou nie ons verhouding op gevoel nie, dit is dikwels onbetroubaar en wisselvallig. Ons bou op die Woord en die beloftes wat daarin vervat is. Tog praat die Bybel gevoelsmatig oor ons verhouding met God, vreugde, blydskap en vrede is tog gevoelswoorde en aanduidings.

Soos ek oor my eie verhouding nadink wil jy dalk ook doen. Reg verstaan behoort die eerste ervaring met die Here net die wegspringblokke te wees. Die oorgawe, liefde en vervulling neem veel eerder toe as af.

Hoe is dit met jou gesteld?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Ons verhouding met Hom hoef nie noodwendig op ‘n bepaalde tydstip te begin nie.Iemand kan die Here van kleins af saam met sy haar ouers ken en dien.’n Mens sal geleidelik meer verstaan en die verhouding sal verder ontwikkel, maar dis nie waar dat elke mens ‘n “dag en datum” moet hê nie,al is dit ‘n voorreg om so ‘n ervaring te ken.’n Verhouding met Hom is ‘n persoonlike ervaring,nie ‘n formele reëling nie.’n Geestelike lewendige mens is iemand wat ‘n intense belangstelling in mense en dit wat rondom hulle gebeur,toon.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.