ToekomsVenster: Ons verteenwoordig God se liefde

grassade

Foto: Anton Darius | @theSollers/Unsplash.com

1 Kor.13 stel ʼn baie hoë standaard. Die liefde is volmaak omdat dit Goddelik is. Jesus is die vergestalting van 1 Kor. 13 se liefde. By Hom is daar nie ʼn sweempie onreinheid nie. Hy stel ʼn navolgenswaardige voorbeeld.

Ek kan nie aan een insident dink in Jesus se aardse optrede waar Hy berekend en moedswillig ongeskik, kortgebonde en selfgerig opgetree het nie.
Hy het egter nie geskroom om valsheid aan te spreek nie. Die Skrifgeleerdes het Hy in geen onseker terme selfs slange genoem. Matteus 23:33
“Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel?”

Dis nie baie vriendelik nie, maar het ʼn konteks.

Liefde beteken nie sonder ruggraat nie. Dan weer, ons ís nie Jesus nie. Sy gesag is Goddelik en geïnspireerd. Hy mág tot verantwoording roep omdat Hy volmaaktheid vergestalt.

Ons egter is terdeë bewus van ons eie gebrokenheid en geneigdheid tot die verkeerde. Ons mag nie veroordelend en arrogant oorkom nie. Ons help mekaar op die reis na die ewigheid.

Ons is aan mekaar gegee, nie om af te knou nie, maar op te help. Liefde word derhalwe vergestalt waar ʼn Christen hom en haarself bevind. Dit begin reeds in ʼn persoon se verhouding teenoor homself. As ons onsself sleg behandel sal ons dit ook aan ander doen. Matteus 19:19 sê: “Eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ”

By die supermark, die motorhawe, sosiale kring en werksomgewing verteenwoordig ons, weliswaar voorlopig omdat ons self nog op weg is, God se liefde in en vir hierdie wêreld.

Die Bybel sê die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.

Romeine 13:10:“Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet”.

Wat verstaan ons nie hiervan nie?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.