ToekomsVenster: ons vier die gemeenskap van gelowiges


Biddende_hande_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

1 Korintiërs 14:26 Hoe moet dit dan wees broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik ’n bydrae om te lewer: ’n Psalm, ’n onderwysing, ’n openbaring, ’n ongewone taal of klank of ’n uitleg daarvan. Sorg dat alles tot opbou van die gemeente verloop.

Ons kan nie praat van gestuur wees in hierdie wêreld as ons van God in die enkelvoud praat nie, want God bestaan uit drie. Daar is gemeenskap of koinonia tussen die drie. Die Drie-eenheid word gesien as ’n gemeenskap op sy eie, die verhouding tussen die drie is genoeg vir hulle, maar tog het God dit goed gedink om ook gemeenskap met mense te hê. Hy wandel in die tuin (Genesis 1-3). Hy word vlees (Johannes 1) en in Johannes 14 beloof Hy om die Gees te stuur om gemeenskap met mense te kan hê.

Koinonia beteken dat ek as gelowige nie net op my eie moet aangaan nie. Ek moet saam met ander gelowiges die pad stap. Ek bid en droom saam met hulle. Ons luister saam na God se wil vir ons en ons ondersteun mekaar. Die byeenkomste van gelowiges is belangrik. Daar moet goeie verhoudings wees.

In die teksgedeelte wat ons saam gelees het, lees ons dat verskillende mense verskillende bydrae lewer tot die gemeenskap van gelowiges. Die een lees ’n Psalm, die ander sing weer ’n lied en so vorm ons saam ’n gemeenskap.

Gebed:

Maak vir jou ’n lysie van mense waarvoor jy nou wil voorbidding doen. Dra hierdie mense met elkeen se unieke menswees aan die Here op.

Leefwyse:

Maak ’n lys van jou vriende. Hoeveel vriende het jy? Dink jy jy is ’n vriend vir hulle? Doen jy moeite om by hulle uit te kom?

Iets om vandag oor na te dink:

Indien jy jou eie maatskappy sou begin (bv.: jou naam. Edms. Bpk.), wie is die direkteure wat aan jou tafel sou sit? Skryf die name neer en wat elkeen van hierdie vriende tafel toe bring. Skryf ook neer wat jy hulle bied. Hierdie is ’n voorbeeld van hoe ons mekaar kan versterk en hoe ons liefde ook kan oorloop in ander mense in.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.