ToekomsVenster: Ons vriendelike God

As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan? Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien. –  Ps. 130:3-4

Arms_uitgestrek_bid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Teologie, woorde en gedagtes oor God, kan opbou of verniel. Dit bly na alles mense se verstaan van die Woord, weliswaar ingestel op die leiding van die Heilige Gees maar nie los van die persoon wat die gedeelte interpreteer nie.

Niemand is soos ʼn skoon bladsy waarop die Heilige Gees alleen skryf nie. Ons dra meer of minder bagasie met ons saam afhangend van hoe die lewe ons behandel het. Ons verteenwoordig ʼn bepaalde lewens- en wêreldbeskouing waarvan die fondasie in ons opvoeding en ouerhuis lê.

Ons word gevorm deur die tienduisende stemme wat gedurende ons leeftyd na ons toe kom. Sommige van die inhoude integreer ons en ander skuif ons opsy. Dit is bykans onafwendbaar dat ons ruimte sal maak vir dit wat by ons menswees inpas en die res sal verwerp. Dit bly daarom ʼn lewenslange reis om die Here en sy bedoeling met ons beter te verstaan en te integreer.

As ons byvoorbeeld ʼn slegte ervaring met ons vader op aarde gehad het sal ons dit heel moontlik op die Vader van die Woord projekteer. As daar geen vertroue was nie sal ons heel moontlik sukkel om die Vader te vertrou. As ons aardse vader ons gedurig gekritiseer het, foutvinderig was, selfs te lyf gegaan het en slae uitgedeel het mag ons die Vader ook so beleef.

In ʼn generasie waar die vaderfiguur in baie gevalle vanweë ʼn verskeidenheid redes afwesig is, kan ʼn mens die Hemelse Vader eweneens as afwesig en onbetrokke beleef. Dit is uiteraard nie waar van Hom nie maar dit is ons belewenis en ongeskrewe verwagting. As ek na God roep sal niemand antwoord nie. “Tipies, my pa het ook nie opgedaag toe ek hom nodig gehad nie” mag ʼn mens dan redeneer.

Baie van ons het grootgeword met ʼn Godsbeeld wat onvriendelik en ontoeganklik is. Iemand wat streng, afsydig, krities en kwaai is. Iemand vir wie jy in die pasoppens moet wees, ʼn reg/verkeerd God.

Dit is nie die God van die Bybel nie. Uiteraard is Hy heilig en is ons Hom respek en gehoorsaamheid skuldig maar Hy is buitegewoon genadig, lankmoedig, vriendelik en toeganklik. Jesus het immers die prys ten volle betaal wat ons toegang tot die Vader waarborg.

Dit is nie ʼn lisensie om onverskillig te lewe nie, inteendeel, dit moet ons motiveer om hierdie vriendelike omgee God, Vader van die Here Jesus en die Heilige Gees met groter oorgawe en liefde te dien.

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. – Matteus 11:28

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

Ons moet terselfdertyd vir GOD die grootste eerbied en respek he , maar tegelykertyd kan ons op ons vreugdevolste wees en heerlik ontspan in Sy teenwoordigheid, want in wiese teenwoordigheid is ons tog so welkom en geliefd as by Hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.