ToekomsVenster: Ons wen saam

(Foto: Farrinni/Unsplash)

“En julle vra: Waarom? Omdat die Here getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond.” − Maleagi 2:14 (AFR53)

Van die huwelik word somtyds gesê dat dit ʼn 50/50-affêre is, wat natuurlik verkeerd is. Dit is inderdaad ʼn 100/100-affêre.

Jy koop met jou hele wese in die huwelik, jou huwelik, in of vergeet liewer daarvan. Enige ander permutasie kan nie werk nie, of dit 50-100 of 100-50 is.

Dit maak tog nie sin nie. Wie wil met iemand getroud wees wat nie hart en siel in die saak betrokke is nie?

Iemand het ʼn boek geskryf met die titel: Ons wen saam. Die teendeel is eweneens waar, ons verloor ook saam. Waar een wen en die ander verloor het ons met ʼn kompetisie te doen, nie ʼn huwelik nie.

Hoe gemaak met ʼn huwelik waarin net een van die partye bereid is om alles te gee?

Sommige sê: “Ons bly terwille van die kinders, die skyn, die eer van God”. Eintlik ly almal in so ʼn verbintenis.

Ek glo met my hele wese dat huwelike kan herstel. Daar is ʼn voorwaarde. Totale oorgawe aan die herstelproses.

Agterdeure werk nie. Dan liewer glad nie die vertrek binnegaan nie.

Daar is wonderlike hulp beskikbaar vir mense wat werk wil maak van hul huweliksverhouding. Alle verhoudings kan verinnig, dit is waar huweliksverryking inpas.

Waar die stukkend en seer oorweldigend is, is huweliksbegeleiding of terapie nodig.

Volwasse mense soek hulp. Dis geen skande om te erken dat ʼn mens in ʼn doodloopstraat is nie.

Die mees gelukkig getroude mense het al tye van droogte beleef, dis onafwendbaar.

God, deur sy Gees, herstel en vernuwe.

Maak vandag nog ʼn afspraak met ʼn terapeut en as dit goed gaan by julle, skakel in by ʼn huweliksverrykingsprogram.

Almal wen op hierdie manier.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.