ToekomsVenster: Ons word geroep om in die wingerd te bly


wingerd

Psalm 80:15 – Almagtige God, kyk tog uit die hemel af en ontferm U weer oor hierdie wingerdstok, neem hom weer onder u sorg.

Die volk van die Here word dikwels in die Bybel met die wingerdstok in verband gebring. Een van die aangrypendste gedeeltes is in Jesaja waar die Here in herinnering roep met hoeveel sorg en deernis hy ʼn veredelde wingerd geplant het – een wat later suur druiwe voortgebring het. Die teleurstelling van die landbouer is voelbaar. Wat nog moes hy doen ten einde ʼn goeie en smaakvolle oes te verseker?

Jesaja 5:1: Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd: Hy wat ek liefhet, besit ’n wingerd op ’n vrugbare heuwel.

Nuwe-Testamenties word vertel van die wingerd waarvan ons die lote is. Ons word geroep om in die wingerd te bly. Lote wat vrug dra.

Johannes 15:5: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.”

Dan weer getuig Jesus ná die laaste Avondmaal met sy dissipels dat Hy nie weer van die vrug van die wingerd sal drink totdat …

Matteus 26:29: “Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”

Tydens nagmaalsgeleenthede drink ons die vrug van die wingerd as simbool van die bloed van ons Here wat gestort is sodat ons kan lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.