ToekomsVenster: Ontdek jouself

(Foto: Cristofer Jeschke/Unsplash)

“Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.” – Jesaja 6:8 (AFR53)

Ek vertrou dat jy met my geduldig is as ek nog ʼn waarheid of twee uit die reeks op TV waarna ek verwys het met jou deel. Onthou ek het gister en eergister verwys na die man wie se lewe uitmekaar val omdat sy droomvrou met iemand anders in die huwelik tree. Aanvanklik bevind hy homself in ʼn vryval na onder. Dan vind hy die genade om weer op te staan. Die verhaal akkommodeer sulke terugflitse waar die man in sy kinderjare met sy wyse oupa gesels.

Die hoofkarakter se wyse oupa het groot waarhede in sy kleinseun se lewe ingespreek.

Iewers sê die oupa: “Daar is niks so belangrik as om jouself te vind nie. Dis eers wanneer jy jouself verloor het dat jy die betekenis daarvan sal verstaan”.

Hierop vra die seun, wat styf teen sy oupa sit: “Waar sal ek myself weer kry as ek myself verloor het?”. Die oupa antwoord: “In jou binneste, in jou binneste”.

Dan vra die seun: “En as ek my nie weer kan kry nie?”.

“Begin waar jou reis begin het. Solank jy jou pad terug kan vind, sal jy jouself weer vind,” antwoord sy oupa.

Ek wonder of jy al geworstel het met die vraag: “Wie is ek nou eintlik en wat maak ek hier?”.

Dit is lewensvrae, dit het met jou ware identiteit te doen.

Vir so lank is ons en word ons wat ander wil hê ons moet wees. Ons dink dis die ware self maar dis ʼn vertoning, ʼn masker, gerig op die aanvaarding en bevestiging van ander.

Jou lewe is daarop gerig om ander se goedkeuring te kry.

Hulle bepaal die agenda en jy leef daarvolgens.

Die handeklap hou jou aanvanklik aan die gang maar met verloop van tyd erken jy teenoor jouself: “Dis nie wie ek is nie”.

“Of ek het myself nog nooit ontdek nie, of ek het myself iewers verloor”.

Die reis na die ware self is ʼn reis na binne.

Dit is ʼn reis waar jy worstel met ernstige lewensvrae.

Ek mag al verwys het na die man wat sê: “Dit moet hel wees om op my sterfbed die man te ontmoet wat en wie ek bedoel was om te wees”.

Die vraag is: “Wie is jy, wie is jy ten diepste? Wie is jy as jy alleen is en ander nie hoef te beïndruk nie? Kan jy alleen met jouself wees, het jy al tot selfaanvaarding gekom?”.

Vra die Here om jou te help.

Ontdek die ware jy, voor die tyd daarvoor verby is.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U die kenner van harte my weer hoop, ,krag en genade betoon….tot in alle Ewigheid is U daar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.