ToekomsVenster: Ontvang die seën

(Foto: Shifaaz Shamoon/Unsplash.)

Somtyds word ʼn daad van medemenslikheid met die woorde, “God seën jou begroet”.

Die gevaar is groot dat ʼn mens dit as ʼn blote dankbaarheidsbetuiging kan beskou en dit is dit inderdaad.

Binne konteks van die gemeente en erediens word die seënbede aan die einde van die diens as ʼn aanduiding dat die verrigtinge nou afgehandel is en dat mense maar huis toe kan gaan. Dit mag iets daarmee te doen hê maar as hierdie woorde reg verstaan word, gebeur daar iets kragtigs. Dieselfde wanneer iemand in opregtheid ʼn seënwens met jou deel.

Dit is soos ʼn geskenk wat met jou gedeel word. Net so kru as wat dit is om ʼn fisiese geskenk wat iemand aan jou gee net daar te laat en weg te stap, selfs sonder om dankie te sê, net so kru is dit om ʼn seënwens van iemand as ʼn blote vorm van dank te beskou. Dit is eweneens ʼn geskenk, een van enorme waarde en inhoud.

Bedink die woorde, “die Here seën jou”.

Die Here verwys immers na die God van hemele en aarde in al sy koninklike heerlikheid, almag en liefde. Dat Hy ʼn behae skep daarin om sy kinders met sy guns, liefde, sorg en omgee te bederf, is tog nie onwaar nie. Dat Hy in staat is om meer te doen as wat ons dink is eweneens waar. ʼn Seënwens is moed vir die pad vorentoe, dis ʼn belofte van God se teenwoordigheid.

Volgende keer wanneer iemand jou met ʼn seënwens groet, bedank, wegstuur, neem ʼn oomblik om dit te ontvang. Maak jou hart oop en vul dit met verwagting. Wonder stellig hoe daardie seën in jou lewe gaan uitspeel. Wees dankbaar vir die onverdiende genade.

Wees gereed om ander eweneens met opregte seënwense te groet, te bedank en weg te stuur. Jou woorde is ʼn gebed. Dit is so goed jy sê, “kan ek vir jou ʼn gebed doen”. “Die Here seën jou” is die gebed, kosbaar, onbegryplik waar.

Ek sluit graag af met hierdie pragtige Franciskaanse seënbede:

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings, sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.

Amen.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.