ToekomsVenster: Oom, help my!

priscilla-du-preez-hande-bid-ondersteun.jpg

(Foto: Pixabay/Pricilla du Preez)

“Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die Here; en Hy sal hom sy weldaad vergelde.” – Spreuke 19:17 (AFR53)

Die Bybel sê dat die duiwel ʼn inbreker en ʼn dief is. Hy het net een agenda en dit is om die lewens van mense te verwoes, en hy slaag uitnemend daarmee. Die slagoffers van sy misleiding word daagliks op soveel plekke raakgeloop. In ons huise, die kerk, die werkplek, die winkelsentrums, op die hoeke van strate en selfs soms net in die verbygaan.

Uiteraard is my bedoeling nie om enigiemand te na te kom nie, immers, ons is uit genade gered en wat my en jou staande hou, is niks anders as die Here se genade en trou nie.

Wie het gesê: “but for the grace of God, there goes I?”

Armoede en verslawing loop dikwels hand-aan-hand. In die proses word kriminele dade gepleeg ten einde die afhanklikheid te voorsien. Die gevangenis is dan die persoon se voorland.

Dit is algemeen bekend dat die gevangenis meer dikwels ʼn plek van oorlewing as enigiets anders is. Rehabilitasie is die uitsondering. Binne die gevangenis is daar ʼn eiesoortige politiek wat bedryf word van gunsies doen, maar terugbetaal is duur.

Die stukkende persoon verval in ʼn sirkelgang van afhanklikheid, misdaad en gevangenisstraf wat bykans onophoudelik herhaal word.

Sonder om die hele storie hier te vertel ontmoet ek gister ʼn vrou van 27 jaar oud. Sy woon in die haglikste omstandighede ooit. Haar sogenaamde kêrel verniel haar fisies en verbaal. Sy woon in ʼn stoor saam met ʼn aantal mans wat by dié store werksaam is.

Sy is vrou alleen. Sy is eerlik dat sy dwelms gebruik ten einde self te oorleef.

Haar afhanklikheid het veroorsaak dat sy nie meer by “veilige hawens” welkom is nie.

Haar familie is almal vasgevang in dwelmafhanklikheid. Trane vloei oor haar wange.

“Oom, help my asseblief, ek moet hier wegkom. Hy het gesê ek moet my goed pak en loop.”

Ek worstel, waarheen? Ek weet niks van haar af behalwe hierdie plotselinge ontmoeting nie. Ek weet nie wat waarheid en wat leuen is nie, maar wonder ek, is trane nie eg nie?

Ek sal vandag navraag doen oor hoe sy gehelp kan word, nie omdat ek spesiaal is nie, inteendeel, ek sou verkies om nie daarvan deel te wees nie.

Net soos jy?

Maar wat word dan van die mense wat sê, vra, smeek: “vat my net hier weg”?

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here U hoor die hulp geroep van stukkende mense, dankie vir engele wat hand uitsteek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.