ToekomsVenster: Oor niks besorg

(Foto: Javon Swaby/Pexels)

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” – Filippense 4:6

Ons gesels hierdie week oor bekommernis en hoe dit ons funksionering in die wiele ry.

Iemand vertel dat ʼn bekende prediker eendag die volgende ontstellende nuus ontvang het. ʼn  Boodskapper kom by hom uit en sê: “Mnr. Wesley, u huis het pas afgebrand,” waarop Wesley antwoord: “Ek het nie ʼn huis nie. Die een waarin ek woon is die Here s’n. As dit afgebrand het, ek een minder verantwoordelikheid”.

Sjoe, om so van materiële dinge los te kom en te leef is nie maklik nie. Ons is aangewese op dinge rondom ons wat die lewe aangenaam en leefbaar maak. Die Here gun dit natuurlik vir ons.

Wesley egter sê dat selfs al sou hierdie dinge wegval ons sekuriteit nie in aardse dinge nie, maar by God berus wat ons elke dag op pas.

Ek is so lief vir Psalm 121 en lees dit graag aan kinders voor. Om te dink dat die Here nog nooit geslaap het nie, sedert die begin nog nie eens vaak geword het nie. Dit klink onrealisties in die lig daarvan dat ons slaap en rus broodnodig het. Tog is dit van Hom waar.

Die teks maan ons om nie bekommerd te wees oor kos, klere en huisvesting, om maar net ʼn paar voorbeelde te noem, nie. Baie van ons vind dit moeilik om met die teks te identifiseer omdat ons nie begaan is oor daardie dinge nie. In Suid-Afrika gaan slaap na raming 14 miljoen mense saans sonder dat hulle ʼn maaltyd geniet het.

Wanneer ons aan voedsel dink is die vraag meermale nie wat sal ons eet nie maar, waarvoor ons lus het? Wanneer ons aan klere dink is die vraag nie wat ons sal aantrek nie, maar wat by wat pas vir die geleentheid. Die wyse waarop die meerderheid Suid-Afrikaners woon, informele strukture en gebrekkige infrastruktuur, is ver verwyderd van ons leefwêreld.

Weereens is die bedoeling nie om ons skuldig te laat voel nie. Dankbaar ja, maar nie skuldig nie, tensy ons ander benadeel het of benadeel ten einde rojaal te lewe. Dit mag egter nie van Christene, veral, waar wees nie.

Die bedoeling van die teks is om ons ʼn aanvoeling te gee vir die leefwêreld van so baie mense, om ons daartoe te bring om op een of ander wyse iets te doen ten einde hul stryd makliker te maak.

Dit hoef nie ʼn verbeeldingryke projek te wees nie, maar kan begin met ʼn kruidenierspakkie aan ʼn sorgbehoewende gesin. Indien dit totaal onmoontlik is om iemand anders fisies te bemagtig, is die offergawe by die plaaslike gemeente ʼn betekenisvolle bydrae.

Mag ons dit wat ons het terdeë geniet, waardeer en op pas. Mag dit eweneens die vertrekpunt wees vir ʼn prakties-dankbare lewe van diens aan ander.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.