ToekomsVenster: Oorvloedige Sonkrag

onsondergang-sonsopkoms-2018-09-01

(Foto: Juanita Badenhorst)

“Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.” − Maleagi 4:2 (AFR53)

Energieverskaffing is ʼn groot uitdaging in Suid-Afrika. Ons is al heel bekend met die metertjie op die televisieskerm wat aandui dat die energieverskaffer nie kan by bly met die aanvraag nie. In die afgelope weke het pres. Cyril Ramaphosa aankondigings gedoen wat belofte dra.

Sommige sien enorme potensiaal in sonkragenergie, veral omdat Suid-Afrika geseën is met heerlike sonskyndae.

Suksesverhale van verbruikers, klein en groot, wat totaal onafhanklik funksioneer laat ʼn mens die moontlikhede oorweeg om sonpanele in te span om in jou eie behoeftes te voorsien. Die son het inderdaad wonderlike moontlikhede.

Die Bybel praat van ʼn ander son, die Son van geregtigheid met genesing in sy strale. Wie in die gloed van die Son kom staan, word herstel met bonatuurlike krag. Dié Son skyn helder, selfs in onweer en donker wolke wat saampak.

Die energie daarvan kan nie uitgeput word nie, ongeag van hoeveel mense daarop appèl maak. Daarbenewens is die kostefaktor ʼn besondere pluspunt.

Sonkrag is natuurlik ʼn duur aangeleentheid en dit is enkelinge wat dit kan bekostig, ten spyte van die voordele en belofte wat dit inhou. Die hemelse son skyn gratis en oorvloedig oor enigiemand wat daarin wil staan. Dit kos letterlik niks nie, behalwe ʼn verwagting dat alle energiebehoeftes effektief in Hom aangespreek sal word.

Dié Son gaan ook nie onder nie. Selfs in die nag kan sy potensiaal tot jou voordeel aangewend word.

Hy is Immanuel, die Son van geregtigheid. Jou energiebehoeftes is beantwoord.

Die Bybel vra waarom ons betaal vir dit wat geen waarde bied nie.

Kom, vra en ontvang alles wat Hy belowe het in die geloof.

Son van geregtigheid, skyn oor my.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.