ToekomsVenster: Op jou knieë saam met Jesus


gebed

Argieffoto.

Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet. – Joh 17:20-21,23

Eenheid is nie ’n populêre tema in sommige kerke in Suider Afrika nie. Inteendeel, daar is ’n onwilligheid onder baie lidmate om selfs daaroor te praat. Baie van hierdie lidmate kry dit reg om ander te oortuig dat die hele beweging na eenheid nie so erg belangrik is nie. God het verskeidenheid lief. Ongelukkig hoor ons soms politieke, ideologiese en selfs rassistiese opmerkings as ons oor eenheid debatteer.

Stel jou voor dat jy langs Jesus kniel wanneer Hy voor sy laaste dae van lyding en sy dood voor sy Vader kniel. Hy bid vir die dissipels wat Hy op aarde agter gaan laat. Dan bid Hy vir die mense wat die woorde van hierdie dissipels gaan hoor. Hulle gaan daardeur tot geloof kom. Jy staan nou op jou knieë langs Jesus omdat jy een van hierdie mense is wat op die evangelie gereageer het.  Wat ’n voorreg.

Maar dan hoor jy wat Hy bid. Hy bid dat mense wat op die evangelie gereageer het, een sal wees.  Luister, Jesus bid nie vir ’n onsigbare eenheid nie. Dis onsin as iemand dit verkondig! Dis natuurlik ’n diep geestelike eenheid, soos tussen ’n pa en ’n seun. Dis wat Jesus sê. Ons eenheid moet iets reflekteer van die intieme band tussen Hom en sy Vader. ’n Intiemer eenheid kan daar nie wees nie.

Is dit onsigbaar? Nee. Jy sien, Jesus sê dat hierdie eenheid ’n doel het. Ja, dis ’n geestelike eenheid van mense wat aan Hom verbind is soos Hy aan die Vader verbind is, maar dit is sigbaar. Hoekom? Want wanneer die wêreld hierdie eenheid sien, sal hulle ‘glo dat U My gestuur het’, sal hulle ‘weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet’ (17:21,23).

As jy langs Jesus op jou knieë staan, sal jy Hom in die rede val met allerhande argumente om Hom te probeer oortuig dat Hy nie hierdie gebed moet bid nie? As jy langs Jesus op jou knieë staan, klop jou hart soos syne, of staan jy in sy pad?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Joh. 3:16 ·

‘n Fyn sinspeling op eenheid vs verskeidenheid. Asof natuurlike verskille in die pad sou wees van Christelike eenheid. Verskeidenheid is eerder mooi. Nie die vyand van eenheid in die geloof nie. Daar is die idee dat die Kerk ‘n sigbare eenheid moet tot stand bring ten koste van alle sigbare verskille. Jesus Christus bid die bogenoemde gebed na sy Nagmaal en nog voor Hy deur al sy dissipels verlaat gaan word met sy kruisiging. Hy weet dat sy dissipels met die kruisiging gaan vlug. In Luk. 22:31 ev. sê Hy aan Petrus dat Hy vir hulle gebid het, want die satan wil hulle sif! Hy bid vir hulle geloof in Hom. Hy self is die sigbare eenheid van ons geloof.
As ons argumenteer dat dit die kerk se werk is om eenheid na te streef beteken dit dat sy verdienste aan die kruis nie volledig en genoeg is vir eenheid van geloof nie. Dit kom neer op die Roomse argument dat die Kerk langs Christus regeer en die Kerk nodig is om Sy werk ‘op te pas’ en gevolglik te voltooi. Christus het nie die kerk nodig nie; die kerk het Christus nodig. Die sigbare strewe na eenheid is nie die doel van die kerk nie. Die Kerk is Christus se mondstuk om die evangelie te verkondig, sodat die verskeidenheid volke tot geloof kan kom in die een Christus se volledige werk aan die kruis. Die eenheid is in Christus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.