ToekomsVenster: Op ons knieë


Jesus-wat-voete-was

Argieffoto.

Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. – Joh 13:12-14

Dit bly een van daardie aangrypende tonele in die Bybel. Jesus staan op sy knieë. Hy was sy dissipels se voete. Die Leermeester doen die werk van ’n slaaf.

Johannes maak dit duidelik dat hierdie daad van Jesus deur liefde gedryf word: ‘Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad’ (13:1). Hoe groot sy liefde is word duidelik uit die konteks. Dink mooi daaroor. Petrus is een van die dissipels. Hy verstaan dalk iets van wat Jesus doen. Hy wil nie hê dat Jesus sy voete was nie (13:6-8). Dis nie reg nie. Immers, Hy is hulle leermeester. Jesus weet egter dat dit dieselfde man is wat Hom sou verloën. Jesus se daad van onvoorwaardelike liefde sal later duideliker word. Die betekenis van die wassing van Petrus se voete sal eers duidelik word wanneer hierdie dienskneg sy lewe as offer vir ons sonde gee.

Dan is daar natuurlik iemand anders onder die dissipels: ‘Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai’ (13:2). Jesus het self geweet dat sy einde naby was (13:1,3).

Hoe diep is die liefde van ons Heer nie! Hy buig voor mense wat Hom sou verloën en verraai. Matteus skryf dat al die dissipels uiteindelik weggehardloop het. Hulle kon nie by Jesus bly nie. Ja, Jesus het hulle tot die einde toe liefgehad!

Jare gelede toe ek ’n student was het ek ’n diens bygewoon wat deur Prof Daniël Louw gelei is. Tydens die tyd van verootmoediging, het hy hierdie gedeelte gebruik. Hy het een woord gebruik wat my tot vandag toe bybly. Dit was die woord ‘daadkrag’. Die daadkrag van die kerk is wanneer ons liefhet soos Hy liefhet. So, sê Jesus, sal almal weet dat ons sy dissipels is (13:33,34).

Dit beteken dat ons liefde ‘tot die uiterste’ moet liefhê. Daar is geen beperkings nie. Met ’n wasskottel en handdoek in die hand, staan ons op ons knieë by daardie mense wat die God se genade die nodigste het – hulle wat ons kwaad aandoen of hulle rug op ons draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.