ToekomsVenster: Op watter wyse word jy geestelik gevoed?

(Foto: Matti Johnson/Unsplash)

“Roem sy heilige Naam, laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees.” – Psalm 105:3 (AFR83)

Ons gesels hierdie week oor holistiese heel wees.

Liggaamlike welsyn is van absolute belang. Wie sy liggaam verwaarloos, op watter wyse ook al, is onverantwoordelik en ʼn nie ʼn goeie getuie vir die Here nie.

Eweneens is ons emosionele versorging van kardinale belang.

Menswees is emosioneel wees.

Dit beteken nie dat jy met die hart op jou mou moet rondloop nie maar as die geleentheid daar is, jouself tog wel aanbied as ʼn medemens.

Uiteraard is geestelike welsyn baie belangrik. Dikwels staan ons geestelike welsyn verder af op ons prioriteitslys. Ons probeer eers onsself vestig in hierdie wêreld, die suksesleer klim, ons posisie bestendig, aan die materiële aandag gee, en redeneer dat ons eendag, wanneer ons tyd het, by die geestelike sal uitkom.

Dit is ʼn hartseer en ʼn verkeerde verstaan van die geestelike dimensie van menswees. Die geestelike is die bron, die fondasie van waaruit alles groei. As die geestelike gesond is, sal die liggaamlike en emosionele waarskynlik redelik goed daar uitsien.

Uiteraard is niks outomaties en vanselfsprekend nie, maar as jou wegspring in die oggend in orde is, behoort ʼn mens die uitdagings wat met die res van die dag gepaard gaan, te kan hanteer.

Ons is nie almal dieselfde nie en ons ervaring van God verskil van mekaar. Wat hierdie saak betref kan ons nie voorskriftelik wees nie. Dit het ons in die verlede in die moeilikheid gebring. God doen die werk, ons kan Hom daarmee vertrou.

Die gebeure rondom die erediens staan sentraal wat ons geestelike gesondheid betref. Sommige sal redeneer dat die Bybel nie sê dat jy moet kerk toe gaan, ten einde naby aan die Here te leef nie. Ek verskil graag van jou. Die gemeenskap van die gelowiges is op die voorgrond in die Bybel.

Iewers maan die skrywer dat ons nie die onderlinge byeenkomste van die gelowiges moet verwaarloos nie. Dit gaan nie net oor dit wat ons hoop om te kry nie, maar in die besonder oor dit wat ons in die proses aan ander mense beskikbaar stel, onsself, ons verstaan, ons getuienis, ons begrip, ons versorging en omgee.

Op watter wyse word jy geestelik gevoed? Die insidentele kontak met God en sy Woord by huwelikseremonies, begrafnisse en so meer, is gevaarlik min. Dit is juis die Woord, in ons harte gebêre, wat in tye van swaarkry ons deurdra.

Hoe gemaklik kan jy omgaan met die Bybel?

Ken jy die breë lyne daarvan en kan jy dit aan iemand anders verduidelik?

Is jy seker van jou kindskap van God en kan jy ander mense help om ook daardie sekerheid te kry?

Watter rol speel die leiding van die Heilige Gees in jou lewe?

Waartoe roep die Here jou in hierdie lewe, waarom is jy hier?

Liggaam, siel en gees, die drie fasette van elke mens se lewe.

As jy gesond is wat jou geestelike lewe betref, sal dit die besluite en keuses wat jy maak in die siel-dimensie, proaktief en positief beïnvloed.

Dit sal uitdrukking vind in die manier waarop jy jouself in hierdie wêreld oriënteer, die liggaamlike.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.