Lees 1 Korintiërs 12:1-11
In 1 Korintiërs 12 gee Paulus aan die gelowiges bepaalde riglyne waarbinne die gawes van die Gees verstaan behoort te word. Vir die 21ste eeuse kerk is hierdie riglyne steeds van onskatbare waarde. Dit stel ons in staat om nie alleen die gawes van die Gees te ontgin nie, maar openbaar ook die hart van God aan die geloofsgemeenskap en die wêreld. Kom ons bekyk hierdie riglyne:
Vers 1: Die gelowige moet ingelig wees aangaande die gawes van die Heilige Gees.
Vers 2-3: Die bewys dat ’n bepaalde gawe die Heilige Gees as oorsprong het, lê daarin dat die persoon deur wie die gawe opereer vir Jesus Christus as Here bely. Die gawes van die Heilige Gees sal nooit die fokus van Jesus as Here afhaal nie. By implikasie sal die gawes van die Gees dus nooit tot menseverheerliking lei nie!
Vers 4-6 en 11: Die totale spektrum van gawes het God as oorsprong en Hy gee dit soos Hy nodig vind. Ons is in God se diens, nie Hy in ons s’n nie. Dus hang die funksionering van gawes nie van ons behoeftes af nie, maar van wat God op ’n bepaalde tyd op ’n bepaalde plek in mense se lewens wil doen. Daar bestaan ’n verskeidenheid van genadegawes, bedieninge en kragtige werkinge in die gemeente. Maar een punt staan soos ’n paal bo water: al hierdie bedieningsgawes kom van God af!
Die gawes van die Heilige Gees is ook nie talente of goed ontwikkelde vermoëns nie! Nee, dit is buitengewone/bonatuurlike gawes wat God op bepaalde tye aan die gemeente gee soos Hy dit nodig vind.
Vers 7: Aan elkeen word ’n gawe van die Gees gegee tot voordeel van almal in die gemeente! Niemand word hiervan uitgesluit nie.
Vers 8-10: Paulus lys hier nege gawes van die Gees:
Drie gawes wat openbaar of onthul
- Woord van wysheid
- Woord van kennis
- Onderskeiding van geeste
Drie gawes wat spesifieke dade/gebeure tot gevolg het
- Gawe van geloof
- Gawe van genesing
- Gawe van wonders
Drie gawes wat meedeel/leer
- Profesie
- Spreek in tale
- Uitleg van tale
ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoekwww.toekomsvenster.co.za.
Goeie onderwerp, baie dankie!! Was wonderlik om weer bewus te word hiervan
Dit is nou sowaar n goeie stuk. Baie dankie
Alle eer aan ons Drie-enige God.!!