ToekomsVenster: Opgeroep tot oorvloedige blydskap

blydskap_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

Verder, my broers, wees bly in die Here! – Fil. 3:1

Die lewe is goed deurmekaar en ’n mens is nie aldag seker dat daar inderdaad iets is waaroor ’n mens bly kan wees nie. Veral met die derde vlaag Covid-19 op ons, voel ’n mens ietwat uitgelewer aan magte waaroor jy nie regtig beheer het nie. Toegegee, om persoonlike verantwoordelikheid te aanvaar en by die protokol te hou gaan al ’n vêr ent, maar daar is baie mense wat siek word selfs al het hulle al hierdie voorskrifte nagekom.

As Paulus dan ons tot blydskap, ja oorvloedige blydskap wil oproep, voel ’n mens somtyds dat hy dalk maklik praat. As Paulus maar geweet het waardeur ons tans gaan sou hy minder voorskriftelik wees. Feit van die saak is wat Paulus beleef het, die ongemak en gevare, die verwerping en vervolging is bykans ongeëwenaar.

Lees daarvan in 2 Kor. 11:12-13. Hy som dit so op: Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Ons moet dus eerder redeneer, as Paulus te midde van sy omstandighede steeds die genade kon vind om bly te wees, dan kan ek ook.

Hierdie blydskap is iets anders as om vir ’n snaakse grappie te lag. Dit word gevoed vanuit die wete dat my naam geskrywe is in die Boek van die lewe en van die Lam en dat ek vir tyd en ewigheid veilig is by Hom.

Niks en niemand kan my uit sy Hand ruk nie en sy genade is onder alle omstandighede genoeg. Hy sal nie toelaat dat ek bokant my vermoë om te verduur beproef word nie, maar betyds die uitkoms gee.

 “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan”. – 1 Kor. 10:13

Verbondsmatig het die God van hemel en aarde Hom aan my verbind en Hy sal ons bewaar.

Dit is om te lewe vanuit die eerste vers van Ps. 23 en die bemoediging en sekuriteit wat dit gee. “Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie”.

Nee wat, wie het jou blydskap gesteel en waarom het jy dit toegelaat? As ons sonder hoop was, kon ’n mens dit seker verstaan maar nou is ons meer as oorwinnaars deur Christus Jesus wat vir ons die krag gee. Geen stadsmuur is te hoog nie en ’n stormende bende kan maar loop slaap. Geen vyand is teen God opgewasse nie.

Lees gerus 2 Sam. 22 en word bewus van die merkwaardige wyse waarop God opdaag wanneer sy kinders na Hom roep.

Wees bly in die Here, wees bly.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Eerstens, dankie weereens vir die bemoediging, Jannie.
Maar miskien kon jy jou paragrawe oor Paulus anders verwoord het? Jy is mos wel bewus daarvan dat die hele Skrif deur die Heilige Gees geinspireer is, so ook Paulus se boeke. So, dit gaan mos nie hier oor Paulus se verwysingsraamwerk nie, want geen woord is neergeskryf wat God nie neergeskryf wou gehad het nie. En Sy Woord is ewig en onveranderlik en sal altyd geldig bly. Mens moet nie sien dit en dat is wat Paulus sê nie, want dis die Here wat aan die woord is!!
Jy weet hierdie goed, daarom mymer ek of jy dit dalk anders kon gestel het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.