ToekomsVenster: Opstanding uit die dood

Foto: Juan Giraudo/Unsplash

Die priesters en die ander was onthuts omdat die apostels die mense geleer het en verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding ‘n werklikheid geword het. – Handelinge 4:2

Die gebeure tydens en na die uitstorting van die Heilige Gees is aan ons almal bekend. Dié dramatiese gebeure, die vervulling van die belofte wat Jesus gemaak het, naamlik om sy kinders nie as wese in die wêreld agter te laat nie maar die Gees as permanente inwoner te stuur het die hele wêreld dramaties verander.

Jesus is weliswaar nie meer fisies by ons teenwoordig nie, maar dalk selfs meer teenwoordig as tydens sy aardse omwandeling. Hoe onverstaanbaar ook al is Jesus, trouens die drie enige God oral, altyd, volledig teenwoordig. Wonderwerkend, genesend, bevrydend, transformerend besig om hierdie sonde geïnfekteerde wêreld in Koninkryk van God te verander, ook deur die gehoorsame betrokkenheid van sy kinders.

Petrus, wat nog onlangs swetsend ontken het dat hy ʼn volgeling van die Messiaskoning is, tree nou heldhaftig onder die inspirasie van die Heilige Gees na vore en verkondig die Boodskap.

Hy huiwer egter nie om sake by die naam te noem nie, lees gerus sy preek in Handelinge 3. Die Jesus wat wreedaardig deur die einste Jode na wie Hy gekom het doodgemaak is, is Here en Heiland. Verlossing is net by Hom te kry. God het hierdie Jesus oor hemel en aarde aangestel. Hy is die Beeld van die onsienlike God, God met ons, Immanuel. Wie die knie voor Hom buig ontvang genade en vergifnis. Wie halsstarrig sy eie pad bly loop neem sy lewe en toekoms in sy eie hande. Dit voorspel niks goeds nie.

Deel van die boodskap verwys na die opstanding uit die dood. ʼn Sekere groepering Jode het die bestaan van engele en die opstanding uit die dood misken.

Daar is vandag steeds mense wat reken dat die dood soos ons dit ken die laaste strooi is. Dan is dit klaar, verby en afgehandel. Jesus het iets anders verkondig. Sy gesprek met Maria by die dood en opwekking van Lasarus is een voorbeeld daarvan. Sy gesprek met die Samaritaanse vrou nog ʼn voorbeeld. Trouens sy hele aardse bediening getuig daarvan.

Sonder die perspektief van die opstanding en die ewige lewe is daar bitter min oor. Hoe kosbaar die hier en nou ook al mag wees en dit is inderdaad ʼn voorreg om nou te lewe, as dit al is wat daar is, maak so baie dinge nie sin nie.

Wie so ʼn lewenshouding handhaaf het rede om mismoedig en ongemotiveerd deur die lewe te gaan.

Jesus het egter opgestaan en so ons opstanding uit die dood gewaarborg. Loof die Here daarvoor.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

Amen, alle lof, eerbied en dank net aan die Here, Almagtige, Allerheiligste Koning van die heelal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.