ToekomsVenster: Oud maar nie koud

Argieffoto.

Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak gebore is. – Genesis 21:5

Ek lees verlede week onder die opskrif “The intern” word realiteit vir 65+” .

Die skrywer Douw Steyn wys daarop dat die verwagte lewensverwagting van mense toeneem en dat aftrede op 65 meer en meer onrealisties raak. Dit word toenemend ʼn geleentheid vir nuwe vaardighede aanleer en stellig ʼn tweede beroep beoefen. Tussen hakies, die lewensverwagting van kinders strek reeds ver verby 100. Dit is onder andere toe te skryf aan die mediese wetenskap, lewenspeil en omgewing.

Nou weet ons ook dat in die tyd waarin ons lewe mense verskeie beroepe in ʼn leeftyd kan beoefen. Mobiliteit van vaardighede en idees, ontwikkeling en die kennisontploffing maak bybly ʼn groot vereiste as jy inderdaad die sekuriteit van ʼn beroep wil hê. Daarbenewens is daar ʼn skare mense wat om dieselfde pos meeding en op jou tone bly is jou voorland.

Douw gebruik ʼn pragtige konsep, die van “ouderdom agnosties”.

Ouderdom raak al hoe meer irrelevant en behoort ook nie mee te spreek wanneer om ʼn betrekking aansoek gedoen word nie. Hoor ek ʼn paar amens op die horison?

Gesondheid is ʼn gawe en indien ʼn mens dit geniet mag ʼn mens met alles wat jy geleer en ervaar het nie op ʼn hopie gaan sit en wag vir die dood nie. Dit is ʼn vermorsing van ʼn leeftyd se skoling en gereed maak. Dit is asof die graad nou uiteindelik behaal is maar die kandidaat tree nie tot die arbeidsmark toe nie.

Al die beleggings, opoffering en harde werk is verniet. Boonop is daar ʼn skare mense wat baat kan vind by dit wat die kandidaat geleer het. Die lewe geniet wanneer ʼn mens effens ouer is en indien jy dit kan bekostig is sekerlik nie verkeerd nie. Maar opgaan in jou eie wêreld en vergeet dat dit terugbetaal tyd by uitnemendheid is, is nie mooi nie.

Wat het jy wat ander mense se lewens in ʼn nuwe rigting kan stuur?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.