ToekomsVenster: Pakkies vol van God se vreugde

(Foto: Yvette Fang/Pixabay)

“Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee: “Moenie met ʼn pad na die heiden nasies toe afdraai nie en moenie in ʼn dorp van die Samaritane ingaan nie. Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe. Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’ Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.” – Matteus 10:5-8 (AFR83)

Ek staan in die ry by ʼn supermark om my inkopies te betaal. Voor my staan ʼn vrou met ʼn verpakking wat vir my lyk asof dit glase in het. Sy is duidelik ingenome met haar keuse veral omdat, so lei ek af, sy dit teen ʼn baie goeie prys bekom. Sy is ʼn sekuriteitsbeampte en is ook so geklee.

Voor haar staan ʼn man wat haar oor die pakkie uitvra. Dan bied hy aan om daarvoor te betaal. Hy sê die Here het vir Hom gesê om dit te doen en vra of sy die Here ken waarop sy bevestigend antwoord.

Sy is baie dankbaar vir hierdie mooi gebaar en van haar kollegas staan nuuskierig nader. Hulle deel in haar vreugde.

Die man sê hy is ʼn pastoor. Sy vra waar sy gemeente is waarop hy antwoord dat hy op verskeie plekke op uitnodiging preek. Hy het nie ʼn gemeente as sodanig nie.

Ek is bly dat ek in die ry beland het. Ek is dankbaar dat ek hierdie gebaar van medemenslikheid kon beleef. Ek is opgewonde omdat ek weereens gesien het dat ʼn mens bykans enige geleentheid kan aangryp om, op ʼn praktiese wyse, die liefde van Jesus te demonstreer.

Dit herinner my aan die fliek wat jy ook waarskynlik reeds gesien het, Pay It Forward. Jy doen goed aan ander en dikwels kom daardie weldaad op die een of ander wyse terug na jou toe. Dis nie dat jy dit verwag nie, maar dit is hoe dit werk.

Sommige sal sê die “universe” beloon jou. Nee wat, ek glo nie die “universe” kan iets vermag nie. Die skepping is ewe afhanklik van God se genade.

Dis die onderhoudingshandelinge van God wat die wêreld op koers hou. Dis die Here wat sien.

Dis die belofte wat waar is: “Werp jou brood op die water en na vele dae sal dit na jou toe terugkom”.

Dis die eietydse realisering van die belofte wat eenmaal in die volheid van die tyd uitgespreek sal word: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg en diensmaagd. Oor min was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel”.

Wie se pakkie moet jy betaal en net dalk vertel dat Jesus hom of haar liefhet?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.