ToekomsVenster: Petrus sal Jesus verloën

veldblomme-in-son

Foto:
Anton Darius | @theSollers/Unsplash.com

Nadat hulle die lofsang gesing het hulle uitgegaan Olyfberg toe. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe: “Ek sal die herder doodmaak, en die skape sal uitmekaar gejaag word. “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.” Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.” Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan ‘n tweede keer kraai, My drie keer verloën.” Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” En al die ander het dieselfde gesê. – Markus 14:26-31

Ai, Petrus die voortvarende. Hy is begeester, maar effe voorbarig. Hy bedoel goed, is opreg, maar halsoorkop. Dis hy wat Jesus die water in volg maar dan sink sodra Hy sy oë van Jesus afhaal. Dit is Hy wat die Godheid van Jesus bevestig: “ U is die Christus, die Seun van die lewende God”. Dis hy wat later Malgus se oor afkap wanneer Jesus in die tuin van Getsemane gevange geneem word.

Hy waag dit met God, selfs tot sy eie verleentheid. Hy neem risiko’s en verken sy eie grense. Hy weet hy is naby die Een wat hom oneindig liefhet, wat sedert sy roeping in sy lewe besig is. Nou vind ons die selfversekerde Petrus verleë by Jesus se doodsaankondiging. Dis meer as waarmee hy kan saamleef. Dis te erg vir woorde, die gedagte dat Jesus gaan sterf. En dan ook die voorkennis dat hy in sy sterwens oomblikke alleen en verlate sal wees.

Ek dink nie een van ons sou anders reageer het nie. Trouens, wat verwag ons van Petrus en die ander?

Die dissipels redeneer onder mekaar – “dit kan tog nie wees dat die Een in wie se teenwoordigheid ons vir die afgelope drie jaar dag en nag was in sy uur van nood alleen sal wees nie”.

“Godverhoed Here, ons sal U nie los nie, ons sal daar wees vir U en dat ons U sal verloën is heeltemal buite die kwessie,” getuig die dissipels.

Wat moes Petrus gesê het? Wat sou ʼn redelike respons gewees het by dié ontstellende aankondiging?

Ek weet gewoon nie. Dis nie ʼn goeie antwoord nie maar ek kan nie dink aan enige ander nie.

Miskien: “Here, wat kan ons doen om dit vir u beter te maak? Here, waaraan sal ons weet dat die uur van verloëning daar is sodat ons dit kan vermy?”

In so ʼn oomblik dink ʼn mens egter nie analities en intellektueel verantwoord nie, veel eerder emosioneel. “Vergeet dit Here. Ons sal U nie verloën nie”.

Later gee Jesus Petrus opdrag om sy kudde te versorg sonder om hom te verwyt oor sy ongeloof en vrees.

Johannes 21:15 – Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.”

Jesus wil vir Petrus en die ander wys wat genade beteken, hoe aangewese hulle is op God se bystand, hoe ellendig klein, nietig en onbeholpe hulle in eie krag is, hoe nodig die latere vervulling met die Heilige Gees was, hoe groot Hy is en hoe belangrik en strategies hulle deel vorm van God se plan vir hierdie wêreld.

Moenie te gou wees om vir Petrus en die ander dissipels te oordeel nie.

Jesus, wetende dat Hy heeltemal alleen sou wees, ook van sy Vader verlate, betaal die prys, ook vir Petrus.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.