ToekomsVenster: Petrus verloën Jesus

traan-trane-oog-huil

Foto: Aliyah Jamous/Unsplash.com

Terwyl Petrus onder in die binnehof was, kom een van die hoëpriester se diensmeisies daar. Toe sy vir Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus.” Hy het dit egter ontken deur te sê: “Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie.” Toe het hy na die deur se kant toe gestaan. En daar het ‘n haan gekraai. Die diensmeisie het hom gesien en weer vir dié wat daar by gestaan het, gesê: “Hy is een van hulle.” Maar hy het dit weer ontken. ‘n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: “Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook ‘n Galileër.” Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.” En onmiddellik het die haan ‘n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan ‘n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën.” En hy het in trane uitgebars. – Markus 14:66-72

Petrus, weliswaar op ʼn afstand bly deel van die storie. Van die ander dissipels is daar nie sprake nie. Hulle het vir nou van die toneel verdwyn.

Die binnehof van die hoëpriester word Petrus se oomblik van waarheid. “Julle sal my almal verloën,” het Jesus gesê. Petrus het reageer: “Selfs al moet ek vir u sterwe, dit sal nooit gebeur nie”. Nou is die oomblik van waarheid. “Voordat die haan twee keer kraai, sal jy my drie maal verloën.”

Die interessante van die verhaal is die intensivering van Petrus se ontkenning dat hy Jesus inderdaad ken. Van ʼn eerste ontkenning na ʼn tweede vasmaak van die negatiewe getuienis aangaande Jesus na naakte woede wat losbars as Petrus weer gekonfronteer word. Dat ʼn skugtere diensmeisie dit regkry, die moedige Petrus wat Malgus se oor afkap, die moedige Petrus wat lewenslange getrouheid aan Jesus gesweer het, is eweneens betekenisvol.

Die haan speel ʼn belangrike rol. Dit gee aan Petrus ʼn eerste waarskuwing. Sou Petrus nie onmiddellik dat die haan die eerste keer kraai tot sy sinne kom nie? Sou hy homself die woorde van Jesus nie onmiddellik voor oë roep nie?

Dis asof Petrus ʼn kans kry om die groot verleentheid gespaar te word. Maar ʼn tweede en derde ontkenning volg en die haan kraai weer. Petrus word oorweldig deur ʼn gevoel van skaamte en teleurstelling in homself en onttrek na ʼn plek waar hy alleen kan wees.

Trane kom te laat word gesê, maar nie vir Petrus nie. Jesus kan trane van opregte berou nie weerstaan nie. Die Psalmdigter sê stellig: “Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.”

Psalms 51:19 – Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie.

Waarom huil Petrus? Omdat hy teleurgesteld is in homself of omdat hy Jesus verraai het toe die hom nodig gehad het? Het Petrus se gevoel van voortvarendheid hom hier ingehaal of skaamte en opregte berou? Huil Petrus terwille van Petrus of huil Petrus oor Jesus?

Het jy al trane gestort omdat jy so teleurgesteld is in jouself?

Jou optrede was nie net ongevraagd nie maar teen hierdie tyd redeneer jy by jouself moes jy van beter geweet het, beter onderskei en twee keer gedink het. Berou is genesend en terapeuties.

Bring jou geloofsmislukkings voor die Here in gebed en belydenis. By Hom is jy altyd welkom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elna ·

Jy is heel temaal reg Sweis. Die aarde is vervuil met Judasse en Petrusse. So sal dit aangaan tot die mens vergaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.