ToekomsVenster: Pinkster en die koms van die Heilige Gees

duif-duiwe

Foto: Mikelmania/Pixabay.com

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” – Handelinge 1:8

Baie gemeentes het gedurende die afgelope week of wat Pinksterdienste gehou. Pinkster herinner ons aan die koms van die Heilige Gees en soos met ander belangrike momente in die Jesus verhaal fokus gelowiges hier op die Persoon en werk van die Heilige Gees.

Die Heilige Gees is vir sommige vreemd en ietwat onverstaanbaar sodat Hy as Persoon nie eintlik veel aandag ontvang nie. Vir baie is Jesus die sentrale figuur in die versoeningsgebeure. Ook die Vader word ietwat op die agtergrond geskuif.

Ons dien ’n drie-enige God en alhoewel geen mens die misterie daaraan kan verduidelik nie, is dit hoe God Hom aan ons openbaar.

Jesus se doop is ’n goeie voorbeeld. Hy, die Seun van God maar ook die Seun van die mens, word bemagtig deur die Heilige Gees wat soos ’n duif op Hom neerdaal. Die Vader verklaar hoorbaar sy liefde en ingenomendheid met sy Seun en roep die ganse werklikheid om na Hom te luister.

… en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My. – Lukas 3:22

Paulus groet gemeentes gereeld met verwysing na die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

Ons word opgeroep om bekeerlinge in die naam van die drie-enige God te doop en te seën.

Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. – Matteus 28:19

Volgens 1 Johannes 5 getuig Vader, Seun en die Gees; lees gerus die gedeelte.

Ons kry ook in die Skeppingsverhaal iets daarvan. God verwys na Homself in die meervoud, kom Ons skep, sê hy, terwyl die Gees op die water sweef. Kolossense vertel vir ons dat niks geskep is sonder Jesus se betrokkenheid nie.

Weereens, die Drie-eenheid ’n misterie wat nie deur ’n mens verduidelik kan word nie. As dit egter die wyse is waarop God Homself aan ons openbaar sou ’n mens darem in jou geloofslewe wou reken met die unieke bediening van elk van die Persone.

Kortom is die Vader die een wat skep, die Seun die een wat herskep en die Gees die een wat mense se harte voorberei om die genadegawe van die ewige lewe te ontvang.

Praat jy met drie die Persone van die Goddelike Drie-eenheid?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Uitstekende omskrywing van die Goddelike Drie-eenheid,ds Jannie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.