ToekomsVenster: Pinkster en geloof

sparkler-lig-glo-geloof-hoop

Foto:
Freestocks.org/Pexels

Romeine 15:13 – Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Die trilogie – geloof, hoop en liefde – is aan ons bekend. Paulus besing die prominensie van liefde. Dit beteken nie dat die ander twee fasette, geloof en hoop, minderwaardig is nie. Die een is voorwaarde vir die ander. Die een vergestalt die ander. Die een gee geboorte aan die ander. Die een is nie sonder die ander moontlik nie.

Daar is nie sprake van geloof sonder hoop en liefde nie. Daar is nie sprake van hoop sonder geloof en liefde nie. Eweneens is daar nie sprake van liefde sonder geloof en hoop nie.

Jy kan nie een kies en die ander agterweë laat nie.

Geloof, Hoop en Liefde is nie ʼn wenslysie nie. Dit is nie ʼn inkopielys nie. Jy word deur al drie oorweldig. Die Heilige Gees doen dit in en deur jou.

Vandag dink ons na oor die eerste van hierdie trilogie: Pinkster-geloof.

Jy kan die twee begrippe eweneens nie van mekaar los maak nie. Die een veronderstel die ander. Die een is voorwaarde vir die ander. Daar kan nie ʼn Pinkster ervaring wees sonder geloof nie. Daar kan nie geloof wees sonder Pinkster nie. Aangrypend en merkwaardig.

Geloof word as ʼn vaste vertroue te midde van “nie sien nie” gedefinieer. Geloof is om te doen, te gaan en te handel net omdat Hy so gesê het. Geen sekuriteit nie. Soos Jesus vir sy dissipels sê, los die beursie, die rugsak en die sandale . Net jy, gaan, ek stuur jou, Ek sal voorsien. (Lukas 22:35)

Ons het geloof nodig in hierdie dae. Ek raak ontsteld wanneer viroloë projeksies oor Covid-19 voorlê. Ja, internasionale tendense en insette berei ons op die ergste voor. Beteken dit dat dit eweneens ons voorland in Suid-Afrika moet wees?

Hier moet fyn nagedink word. Ek praat nie van onverskilligheid en traak-my-nie-agtigheid nie. Die vraag is egter. Wie se woord het meer gesag?

Sjoe, dit is nie maklike dinge hierdie nie. Mens worstel om te verstaan. Maar God is groter, heerliker en merkwaardiger as mense. Mag Hy ons bewaar.

Pinkster-geloof: Om te doen wat nou nodig is. Om ons gemaksones agter te los en die ekonomie te sien herstel. Om die massas honger mense versadig te sien. Om die dakloses beskerm te sien. Om die straatbewoners versorg te sien. Om die kinders getroos te sien.

Ons het Pinkster-geloof nodig. Dit is na alles ʼn gawe van die Heilige Gees. Omarm, integreer, glo en handel is waartoe die Here ons roep.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Baie mooi uiteensetting van geloof,hoop en liefde ds Jannie.Dit word ook die drie teologiese deugde genoem wat in baie noue verband staan met die vier kern deugde naamlik:wysheid,selfbeheersing,waagmoed en geregtigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.