ToekomsVenster: Popeye se sterkste eienskap … wat van jou?


popeye

Grafika: Flickr.com

Lees: Jesaja 61:1-3

Die meeste van ons is lief vir strokies- of animasieprente. En indien jy al onder die ouer garde tel, is Popeye nie vir jou onbekend nie. Dalk omdat ma of ouma vir Popeye misbruik het om ook spinasie in jou lyf te kry … want kyk net sy spiere!

Maar daar was iets anders aan die Popeye-storie wat mens opgeval het … sy passie en liefde vir Olive, sy meisie, en hoeveel keer hy haar sou red! Nou ja, die bullebak in die storie het natuurlik sy oog op Popeye se meisie gehad en sou heelwat moeite aangaan om Popeye te neutraliseer en Olive vir homself op te eis. Tot eendag dat Popeye dit nie meer kon uitstaan nie: “That’s all I can stands, and I can’t stands it any more!” en dan ruk hy ʼn blik spinasie oop en gee die bullebak ʼn opstopper dat hy doer anderkant op sy jis te lande kom.

Dit het my aan die wonder gesit … word ons nie ook gekonfronteer deur situasies wat ons kan duld, en duld, en duld, maar net tot op ʼn punt, en dan kan ons nie langer nie? Martin Luther King Jr. het die volgende treffende en baie kosbare uitspraak gemaak: “I refuse to accept the idea that the is-ness of man’s present nature makes him morally incapable of reaching up for the eternal ought-ness that forever confronts him. Friends, this is what it looks like to live from a place of holy discontent – where ought-ness simple overtakes is-ness.

Die vraag aan ons is dus, lewe ons vanaf ʼn plek van heilige ontevredenheid, ʼn plek waar ons net nie “gemaklik” kan wees of ooit gemaklik kan word oor die onreg en ellende, die misbruik en korruptheid van die mensdom nie en die skrikwekkende effek daarvan op die mensdom en die aarde nie? Dis dan dat ons saam met Paulus in Romeine 8 sug! Maar dis nie ʼn moedelose, magtelose sug nie, maar ʼn sug wat ons dring, ʼn holy discontent by ons wakker maak. En dis dan dat ons by Maretha Maartens se “om te” uitkom … om jouself af te vra, Wat is my om te …? Waarvoor is ek hier?

Iets om oor na te dink

Vra die Here om jou soos ʼn Esegiël in ʼn vallei, ʼn plek, ʼn gemeenskap neer te sit waar jy gekonfronteer word met die dit is hoe dit is daarvan, wat jou net té ongemaklik laat om te ignoreer!

Gebed

Here, is dít u roeping op my lewe? Here, lei my. Here, rig my op. Amen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.