ToekomsVenster: Put krag uit Sy opstanding

(Foto: Vishal Banik/Unsplash)

Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind – Filippense 3:10

Sonder die opstanding van Jesus uit die dood, is ons geloof waardeloos, leer die apostel Paulus ons. Dan vervolg hy: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het”. (1 Kor.15:20)

Jesus is deur die heerlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek.

Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei. – Romeine 6:4

Daar is krag, moed, betekenis, motivering, belofte opgesluit in die opstanding van Jesus uit die dood. Dit getuig van oorwinning en triomf, van heerskappy en Koningskap. Hy is die eerste wat uit die dood opgewek is.

Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. – Die Openbaring 1:4-5

As Hy die eerste is beteken dit tog dat ander volg. Daar is inderdaad ’n opstanding wat vir gelowiges in bewaring gehou word die dag dat Jesus op die wolke verskyn, by sy wederkoms. (1 Petr.1:4)

Daar is egter ook, net soos die daaglikse bekering, sprake van ’n daaglikse opstanding.

Dit is hoe jy jou dag begin, in die teken van oorwinning. Die wete dat daar vandag niks is wat gaan gebeur waaroor God nie beheer het nie. Die wete dat jy Hom kan vertrou met elke uitdaging. Hy sal jou nie teleurstel nie.

Ons bly arm in ons geloofslewe omdat ons nie daarin slaag om te lewe vanuit dit wat God reeds vir ons bereik het nie. Ja, swaarkry en uitdagings is te ene male deel van die lewe. Dit is egter nie nodig dat jy, kind van God, in eie krag probeer leef nie. Die krag wat alles oortref kom van God. Dit is tot jou beskikking en dit is soos ’n lewegewende fontein. Jy moet net skep en drink. Die fontein borrel steeds vandag en jy kan tot versadiging daaruit drink.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cheryl ·

Net Jesus. Geen Japanese ikigai beginsel soos in ‘n ander MM berig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.