ToekomsVenster: Sagaria, die stom priester


oggend-son-plant-by-venster

Foto: Francesco Paggiaro/Pexels.com

Lukas 1:12
Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword.

Dit was Sagaria se diensbeurt om in die tempel die pligte van ʼn priester uit te voer. Die geleentheid was groot en besonders. Dit was ʼn eer om met die Here se dinge besig te wees.

Die ontmoeting met die engel is nie iets wat hy kon voorsien nie. Die aankondiging van die engel was heeltemal buite sy verwysingsraamwerk. Ja, dit is waar dat hy en Elisabet begeer het om kinders van hul eie te hê, maar die geleentheid het nou verbygegaan.

Mettertyd het hulle geleer om vrede te maak met iets wat nooit kon wees nie.
Buitendien het die jare hulle nou ingehaal en verlustig hulle hul maar in die buurt se kinders.

Dit was na alle waarskynlikheid die eerste keer dat Sagaria ʼn engel gesien het.

Hy kon gewonder het of hy droom, veral toe die engel hom vertel van iets wat net in drome gebeur: oumense wat swanger word.

Onmoontlik en eintlik snaaks.

Die engel hanteer Sagaria se huiwering nie vriendelik nie. Jy sal stom wees tot en met die kind se geboorte en jy moet hom Johannes noem.

Lukas 1:20
“Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.”

Die mense verstaan nie wat met Sagaria gebeur het nie. Hy lyk ontsteld en verbouereerd wanneer hy na buite kom. Hy moes iets beleef het, iets buitengewoons gesien het om so geraak te wees.

Elisabet hoor tussen al die beduiery van die engel-ervaring.

“Ons het niks om te verloor nie, Sagaria. As God so gesê het, kan ons dit maar glo.”

Lukas 1:24-25
Na daardie tyd het sy vrou Elisabet swanger geword en haar vyf maande lank afgesonder. Sy het gesê: “Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.