Sagaria se vrou, Elizabeth, is onvrugbaar en kan dus nie kinders in die lewe bring nie. Daar is verskeie verhale van vroue wat te midde van hul onvermoë om swanger te raak tog deur die Here begenadig word. Hierdie kindjie wat gebore gaan word, is ʼn belangrike persoon. Hy sal van geboorte af met die Heilige Gees vervul wees en moet die weg vir die Messias as Koning, die Verlosser van die wêreld, voorberei.
Sagaria word die teken waarna hy vra. Hy bly stom tot die kindjie Johannes se naamgewing. Elizabeth besing die grootheid van die Here. Hy het nou haar vernedering as kinderlose vrou (soos beleef in daardie tyd en kultuur) omgekeer. Haar opgewondenheid bereik ʼn hoogtepunt wanneer Maria, die moeder van Jesus, haar besoek en die baba in haar moederskoot in verwondering beweeg.