ToekomsVenster: Sagmoedigheid


blomme_tuin_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die vrug van die Gees is … sagmoedigheid en selfbeheersing. – Galasiërs 5:22-23a

Om te midde van aanslae, moeilike omstandighede en uitdagende verhoudings sagmoedig te bly, vra groot innerlike krag. Jy kán doen wat jou sondige natuur graag wil, maar jy sal nie. Jy kies om meer gehoorsaam aan jóú Meester te wees as aan jou eie begeertes. Hierdie vrug van die Gees stel jou in staat om maklik te vergewe, met sagte woorde reg te help en ’n dienskneg-leier te wees.

Selfbeheersing stel ons in staat om al ons woorde en aksies onder beheer te hê. In ons geval beteken dit nie enige beheer nie, maar die beheer van die Heilige Gees! In ’n sekere sin plaas selfbeheersing ’n punt na ons gedagtewisseling oor die vrug van die Gees. Selfbeheersing stel ons in staat om in alle opsigte onder leiding van die Heilige Gees te opereer.

Toewydingsoomblik
Die vrug van die Gees maak dat jy nie meer mooi in die wêreldse stelsels inpas nie. Jou optrede is vreemd. Anders. En omdat jy nie inpas nie en mense nie weet wat om met jou te maak nie, mag jy dalk verwerping en vervolging ervaar.

Geseënd is jy as jy vervolg word ter wille van Christus… – Matteus 5:10

Want daar wag ’n oes van seëninge op jou! ’n Oes wat jou voete onder jou gaan uitslaan en elke offer wat jy gebring het, elke traan wat jy gestort het en elke moeilike keuse wat jy moes hanteer, dubbel en dwars gaan beloon! Moenie moed opgee nie!

Gebed
Here ek is nog arm van gees. In my eie vermoë lyk Christus-gelykvormigheid vir my onmoontlik. Ek kan nie anders as om te treur oor al my foute en gebreke nie. Ek het U nodig. Ek onderwerp my aan U. Maak my mak, Here. Leer my hoe om geduldig en sagmoedig te lewe. Dankie dat U teenwoordigheid ook vir my selfbeheersing verseker. Ek wil nie meer in eie krag leef nie, leef deur my, Here! Amen.

Praktyk
Moenie toelaat dat die Bose jou ontmoedig as jy stadiger groei as wat jy beoog het nie. Bely as jy gefaal het en keer onmiddellik terug na ’n tempellewe. Wees sterk! Wees vol moed! Niks hiervan is eie werke nie. Eerder is dit ’n proses van dieper oorgawe aan die Heilige Gees. God het groot planne vir jou lewe, maar dit vra absolute onderdanigheid aan Hom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.