ToekomsVenster: Seën julle vervolgers

(Foto: Kilarov Zaneit/Unsplash)

Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. – Rom. 12:14

Dit is ongelukkig ʼn hartseer werklikheid, almal hou nie van ons nie en sommige maak geen geheim daarvan nie. Toegegee, ons hou ook nie noodwendig van almal nie en dalk is die gevoel wat teenoor ons gekoester word wedersyds.

Ek weet ook nie van ʼn plek in die Bybel waar ons aangesê word om van alle mense te hou nie, of hoe? Wat die Bybel wel sê is dat ons alle mense moet liefhê en dit is iets anders as om van iemand te hou, of wat sê ek?

Persoonlikhede verskil, daarvan is ons terdeë bewus. Dit dra by tot die ryke verskeidenheid van menswees en is deel van God se gawes aan ons.

Wanneer daardie verskille egter op die spits gedryf word, ontstaan probleme. Dit gebeur wanneer een party daarop aandring dat sy of haar oortuiging die regte en enigste perspektief verteenwoordig.

Wanneer ʼn mens eiegeregtig en opgesmuk jou oortuiging op ander wil afdwing, kan jy reaksie verwag. Min mense sal daarmee gediend wees, veral in ʼn tyd waarin Suid-Afrikaners en die burgerlike samelewing hul stem ontdek.

Die wyse waarop jy die saak sien mag die waarheid wees. Jy moet egter baie seker maak daarvan en dan bid vir die genade om dit op die regte tyd en op die regte manier aan ander oor te dra. Deur erkenning te gee aan ander mense se reg op eie oortuiging en opinie kom ʼn mens reeds baie ver.

Dit is jammer dat mense vasgevang en vasgeval raak in ʼn manier van glo en doen en dit dan aan ander voorhou as die aangewese. Ons loop soveel mis in die proses.

Suid-Afrika is daarvan ʼn mooi gevallestudie. Ons het die rykheid en verskeidenheid van mense so lank misgeloop. Gelukkig begin dinge verander en begin alle partye groter volwassenheid openbaar.

Jy het ʼn reg op jou opinie. Die ander persoon ook. Gun vir ander wat jy vir jouself gun. So kan ons ʼn ver pad met mekaar stap.

Dit is ʼn demonstrasie van Christelike volwassenheid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Aikie ·

Dankie vir ‘n mooi boodskap wat regtig in ons Suid Afrikaanse gemeenskap hoort. Ek hoop net die ander partye lees ook die boodskap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.