ToekomsVenster: Sewe sakke sout

(Foto: Pixabay)

“Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword”. – 1 Kor. 13:1

Ek is seker julle is almal bekend met dié bekende spreukwoord. Dit word binne konteks van die huwelik gebruik, en verwys gewoonlik na die lang en dikwels uitdagende pad wat agter ʼn paartjie se lewe saam lê. Sommige werk nog aan hul eerste sak sout, ander het al ophou tel.

’n Sak sout met iemand opeet beteken natuurlik om genoeg ondervinding saam met iemand opdoen sodat julle mekaar goed leer ken.

Hierdie “ken van mekaar” kom nie sonder moeite, opoffering, selfprysgawe en verdraagsaamheid nie.

Dalk is 1 Kor. 13 netjiese, teoretiese onderbou vir en van hierdie spreukwoord. Toegegee, dit word in die Bybel nie in die eerste plek binne konteks van die huwelik gebruik nie, maar daar is geen rede waarom dit nie ook daarop van toepassing gemaak kan word nie.

Ek is bekommerd dat dit by huwelikspaartjies aan vasbyt en deurbyt, nie stukkend byt nie, kortkom. In ons gemaklike verbruikerskultuur word goed wat nie werk nie mos maar maklik vervang. Trouens, ons ruil ons “ou” selfoon wat steeds uiters funksioneel is, gereeld in vir ʼn nuwe model. Miskien het iets daarvan in ons huwelike gebeur.

Ek het in die jare wat ek predikant is meer huwelike bevestig as wat ek kan onthou. Ek wonder hoeveel daarvan is steeds op koers, trouens, ek is bewus van verskeie wat met die eerste uitdaging handdoek ingegooi het.

Ek wil dit bykans kategories stel: As jy nie met jou huidige lewensmaat oor die weg kan kom nie (en daarmee verwys ek nie na buitegewone omstandighede wat saambly selfs onwenslik maak nie), sal jy met ʼn volgende nie reg kom nie.

Die liefde word gevoed en bevestig deur vergiffenis, verdraagsaamheid, versoening en vertroue.

Is jy op die punt van opgee?

Nie sonder dat jy elke moontlike uitweg probeer het nie. Op sy minste die vraag of julle met iemand gaan gesels het, of julle hulp gaan soek het, of julle daaroor gebid het en of julle teenoor mekaar bely het.

Daar is hulp beskikbaar. Maak by jou dominee of pastoor ʼn draai as jy sou wou redeneer dat finansies ʼn probleem is. Die soort gesprekke kos (gewoonlik) niks nie.

Jy skuld dit aan jouself om alles te probeer voordat jy opgee.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.